Nuus 15:00
BULLETIN 13 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê BlackRock se verbintenis dui op vertroue in Afrika se infrastruktuur
# Honderde voertuie is naby Worcester vasgekeer weens oorstromings
# En rugby: Rassie Erasmus kondig ‘n doelgerigte groep aan vir die tweede Bok-belyningskamp
# President Cyril Ramaphosa sê Afrika tree na vore as ‘n toonaangewende bestemming vir wêreldwye infrastruktuur-belegging, met beleggers toenemend op soek na bestendige, langtermyngeleenthede. Hy het op die SA Infrastruktuur-beleggingsberaad Suid-Afrika se groot, uiteenlopende ekonomie, sterk finansiële sektor en groeiende stedelike bevolking as belangrike voordele benadruk. Ramaphosa het verwys na BlackRock se verbintenis van nege-miljard-rand vir infrastruktuur deur die Afrika-infrastruktuurfonds-drie, wat op energie-, logistiek- en vervoerprojekte gemik is:
Die Franse president, Emmanuel Macron, het intussen ‘n belegging van 444-miljard-rand aangekondig tydens ‘n Afrika-beraad in Kenia. Hy sê Afrika en Frankryk is gelyke vennote met gemeenskaplike doelwitte. Macron het 230-miljard-rand in beleggings in privaat en openbare fondse van Franse ondernemings aangekondig, asook 148-miljard-rand van Afrika-ondernemings, vir energie-oordrag, landbou en kunsmatige intelligensie. Die beraad word beskou as Frankryk se poging om sy bande met Engelssprekende Afrikalande te versterk te midde van verswakkende betrekkinge met sy voormalige kolonies op die vasteland.
# Ongeveer 250 vragmotors is steeds vasgekeer op die N1 buite Worcester in die Boland weens oorstromings, terwyl meer as 20 busse by ‘n vulstasie geparkeer is waar hulpbronne uitgeput is. Jo-Anne Otto van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sê hoewel opruimingsoperasies aan die gang is, sal dit etlike ure neem om die agterstand op te klaar wanneer toegang herstel word. Sy sê die Hugenote-tonnel sowel as Du Toitskloofpas bly gesluit, en die meeste kommer word veroorsaak deur die Breë-, die Berg- en die Kleinbergrivier wat afkom.
# ActionSA verwelkom die uitspraak van die Konstitusionele Hof wat bevestig dat verwerpte asielsoekers nie onbepaald in Suid-Afrika kan bly deur herhaalde regsaansoeke nie. Lerato Ngobeni van die party sê die uitspraak versterk bestaande immigrasiewette en beklemtoon mislukkings in afdwinging en administrasie. Ngobeni het die Departement van Binnelandse Sake versoek om dringend hervormings in te stel, asielagterstande op te klaar, deportasiestelsels te versterk en koördinering tussen staatsinstellings te verbeter:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy het ‘n doelgerigte groep aangewys vir volgende week se tweede belyningskamp in Kaapstad. Die 25 voorspelers en 15 agterspelers sluit twee nuwelinge in – die Leeus-losvoorspeler Sibabalwe Mahashe en die veelsydige Haaie-agterspeler Zekhetelo Siyaya – en tien spelers wat nog nie toetse gespeel het nie. Verskeie ervare Bokke is weens beserings op die kantlyn en Erasmus sê die doel van die kamp is om hierdie spelers bloot te stel aan die span se strukture en stelsels vir die volgende twee seisoene en daarna.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-27 teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-652-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-700-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….