Nuus 15:00
BULLETIN 11 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Senior polisiebeamptes en ‘n sakeman is borgtog van twintig-duisend-rand toegestaan
# ActionSA is bekommerd oor die jongste bewerings oor Phala Phala
# En rugby: Alles is op die spel vir drie Suid-Afrikaanse spanne in die finale Verenigde Rugby-kampioenskap-groepronde
# Die polisie se hoof van Teenintelligensie, Feroz Khan, die Gautengse hoof van die Valke, Ebrahim Kadwa, en die sakeman Tariq Downes is borgtog van twintig-duisend-rand toegestaan in die Kemptonparkse Landdroshof in Gauteng. Hulle staan tereg op aanklag van die onwettige besit van edelmetaal en regsverydeling. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê Downes is na bewering in 2021 op die OR Tambo Internasionale Lughawe vasgetrek 62-duisend-rand se goud:
# ActionSA is bekommerd oor berigte dat tot 15-miljoen-rand moontlik gesteel is van president Cyril Ramaphosa se plaas, Phala Phala, teenoor vroeëre bewerings van sowat 8,75-miljoen-rand. Michael Beaumont van die party sê sleutelinstellings het versuim om volle aanspreeklikheid te verseker, en bevraagteken vertragings met die vrystelling van verwante verslae. Beaumont voer aan die Parlement en toesighoudende instellings moet hul ondersoeke verskerp en onderneem om aanspreeklikheid af te dwing deur parlementêre prosesse:
# Die Nasionale Energierereguleerder sê hy reik geen bevestigings, lisensies, vrystellings of enige ander vorm van korrespondensie uit aan aansoekers vir groothandellisensies wat nie hul eie petroleumbergingsgeriewe ingevolge die Wet op Petroleum‑pypleidings reguleer nie. Nersa sê hy het talle versoeke van verskeie organisasies ontvang wat bevestiging van bergingslisensies wil hê. Woordvoerder Charles Hlebela sê die reguleerder sal slegs aansoeke oorweeg van geriewe wat binne die volgende ses maande opgerig word, en waarvoor goedgekeurde bouplanne en ander voorgeskrewe vereistes reeds ingestel is.
# Rugby: Die drie Suid-Afrikaanse spanne wat steeds die Verenigde Rugby-kampioenskap se uitspeelrondes kan haal, sal alles in die stryd moet werp in die naweek se kragmetings. Die Stormers is tans tweede op die punteleer en seker van kwalifisering, maar ‘n oorwinning oor Cardiff in Wallis Vrydag sal hulle ‘n tuiskwarteindstryd laat beklink. Die Bulle is vierde en die Leeus vyfde, en oorwinnings in die laaste groepronde sal kwalifisering verseker. Die Bulle pak die Italiaanse span Benetton op Loftus terwyl die Leeus in Ierland teen Munster te staan kom.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-32 teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-143-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-672-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-86-sent per vat.
# En ten slotte: Die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Bernice Swarts, het amptelik die Presidensiële Een Miljard Bome-program bekendgestel in die Suid-Afrikaanse Nasionale Bioverskeidenheids-instituut in Pretoria. Die tema is: “My Boom, My Suurstof. Plant Joune Vandag.” Swarts sê as deel van die Presidensiële Tien Miljoen Bome-program, moedig die veldtog alle sektore, insluitend die regering, sakeondernemings en individue aan om bome te plant om klimaatsverandering te bekamp. Sy vra ook samewerking met die plant van tien-miljoen bome op Erfenisdag op 24 September.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….