Nuus 15:00
BULLETIN 7 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering gelas streeksamewerking om bestendige voorsiening van brandstof en kunsmis te verseker
# Die kabinet veroordeel vals xenofobie-video’s
# En rugby: Die Junior Bokke sal die Onder-20 kampioen wees as hul Saterdag die Baby Blacks klop
# Die regering het streeksamewerking binne die Suider‑Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap gelas om bestendigheid in die voorsiening van brandstof en kunsmis te verseker. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die regering gryp in om brandstofpryse te verlig te midde van wêreldwye spanning weens die voortgesette konflik in die Midde-Ooste. Sy sê die kabinet het die brandstoftoelaag van 17,2-miljard-rand goedgekeur van April tot Junie, wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, aangekondig het:
Die kabinet veroordeel ook vals video’s en fotos waarin aanvalle op buitelandse burgers in Suid-Afrika uitgebeeld word. Ntshavheni sê hierdie waninligting beskadig die land se beeld en bevorder onbestendigheid. Sy sê hoewel burgers teen onwettige immigrasie mag betoog, sal geweld en stamgegronde aanhitsing nie geduld word nie. Ntshavheni beklemtoon owerhede versterk grensbestuur en munisipaliteite is gelas om handelsverordeninge af te dwing:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se plasing onder administrasie weerspieël ‘n diepgaande mislukking van bestuur en toesig. Die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, het die besluit geneem ná aanhoudende bestuurs-, finansiële en bedryfs-mislukkings. Claude Naicker van die vakbond sê hulle was deurentyd bekommerd oor die verdiepende krisis in N-S-FAS en die verwoestende uitwerking op studente en werknemers:
# ‘n Verslag deur die Sakeraad vir Afrika sê die meeste Afrikalande kan nog nie nywerheidsgroei volhoubaar handhaaf nie. Volgens die verslag voldoen slegs Suid-Afrika, Egipte, Marokko en Mauritius tans aan die vereistes vir langtermyn behoud van nywerhede. Die verslag beklemtoon elektrisiteit, vervoer, opvoeding in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde, asook sterk finansiële instellings as sleutel-aandrywers. Intussen bly korrupsie en veiligheids-onbestendigheid groot struikelblokke vir ekonomiese ontwikkeling reg oor die vasteland.
# Rugby: ‘n Oorwinning vir die Junior Bokke oor die tweemalige verdedigende kampioen, Nieu-Seeland, Saterdag in Gqeberha in die Oos-Kaap sal hulle hul eerste Onder-20-Rugbykampioenskapstitel besorg. Die Baba-Bokkies het Argentinië en Australië vroeër oortuigend verslaan, terwyl die Baby Blacks die Wallabies geklop maar teen Los Pumitas verloor het. Daar was vroeër verwarring dat Suid-Afrika reeds die titel beklink het, maar SA Rugby het bevestig daar is steeds ‘n kans dat hulle nog ingehaal kan word. Argentinië en Australië pak mekaar in Saterdag se ander wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-18 teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-892-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-730-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 96-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….