Nuus 15:00
BULLETIN 5 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fadiel Adams word in hegtenis geneem nadat hy versuim om by die polisie aan te meld
# Rugby: Salman Moerat oefen weer saam met die Stormers na ‘n lang afwesigheid weens ‘n besering
# En ‘n gebedsbyeenkoms om die instorting van die gebou in George te herdenk is uitgestel oor swaar weer
# Die polisie het die leier van die National Coloured Congress en parlementslid, Fadiel Adams, by sy parlementêre dorpshuis in Kaapstad in hegtenis geneem nadat hy homself nie oorgegee het nie. Hy word gesoek vir bedrog en regsverydeling wat verband hou met die moordsaak van die ANC-raadslid Sindiso Magaqa. Adams het onderweg na die Grassypark-polisiestasie gesê hy het aangedui hy is bereid om saam te werk:
# Die hoof van die Valke se eenheid vir georganiseerde misdaad, generaal-majoor Hendrik Flynn, het aan die Madlanga-kommissie gesê goud wat onwettig ontgin word, word deur tussengangers op onwettige markte ingevoer. Materiaal word aan gelisensieerde raffinaderye verkoop, soms gemeng met wettige voorraad, wat opsporing bemoeilik. Flynn beklemtoon nie alle maatskappye is betrokke nie. Hy waarsku kontantgebaseerde transaksies en swak toesig maak geldwassery moontlik, hou onwettige mynbou in stand en versteek finansiële vloei:
# Forum for South Africa vra die regering om die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente te vervang met ‘n doeltreffende en deursigtige befondsingstelsel vir studente. Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het die skema onder administrasie geplaas nadat bestuur misluk en verskeie raadslede bedank het. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê NS-FAS is ʼn gebroke instelling wat heeltyd die studente in die steek laat wat hy moet dien:
# Rugby: Die Springbok-slot Salmaan Moerat is terug op die oefenveld en lyk of hy fiks sal wees vir die Stormers se laaste twee Verenigde Rugbykampioenskaps-groepwedstryde in Europa. Hy het in Januarie laas vir die Kaapstadse span gespeel toe hy ‘n toonbesering opgedoen het. Die Stormers, tans boaan die punteleer, speel Vrydagaand in Ierland teen Ulster en volgende naweek in Wallis teen Cardiff. Moerat se terugkeer is ook goeie nuus vir die Bokke. Hy verlaat die Stormers die einde van die seisoen om by La Rochelle in Frankryk aan te sluit.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-888-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-555-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 111-dollar-32-sent per vat.
# En laastens: ‘n Gebedsbyeenkoms ter herdenking van die instorting van ‘n gebou in George in die Wes-Kaap is onbepaald uitgestel. Eerwaarde Pete Veysie van die Metodistekerk sou môre die geleentheid aanbied, maar dit is afgestel omdat ‘n vlak 8-storm na verwagting die Tuinroete van vandag tot Donderdag sal tref. Vier-en-dertig mense is dood en talle beseer toe die bouterrein op 6 Mei 2024 ingestort het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….