Nuus 15:00
BULLETIN 4 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Reuse-brandstofprysverhogings is bevestig vanaf Woensdag
# Minister de Lille sê die Afrika-reis-indaba verbind Afrika-produkte met internasionale markte
# En krieket: ‘n Ooreenkoms van 27,5-miljard-rand is beklink om die IPL-span Rajasthan Royals te koop
# Nog ellende wag Woensdag op Suid-Afrikaners by die brandstofpompe. Die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, het reuse-verhogings aangekondig wat môre om middernag in werking tree, aangevuur deur hoër internasionale oliepryse, ontwrigting in voorsiening en geopolitieke spanning wat ru-oliemarkte beïnvloed. Petrolpryse sal met drie-rand-27-sent per liter styg en diesel met ses-rand-19-sent per liter. Lampolie en Vloeibare petroleumgas sal ook beduidend duurder word. Mantashe sê ondanks brandstofheffing-verligtingsmaatreëls, laat internasionale kostedruk steeds plaaslike brandstofpryse opgaan.
Intussen waarsku die taxibedryf in die Wes-Kaap oor moontlike tariefverhogings namate brandstofpryse aanhou styg. Verenigings sê verhogings plaas ernstige druk op operateurs. Hulle erken pendelaars worstel reeds met hoë lewenskoste en meeste sal die uitwerking voel, maar sê die tariefaanpassing is nodig om die sektor finansieel lewensvatbaar te hou.
# Die Johannesburgse Metropolisie sê die misbruik van blouligte is ‘n ernstige oortreding wat die integriteit van wetstoepassing en openbare veiligheid ondermyn. Twee mense is die naweek in Sandton aangekeer vir polisienabootsing, dronkbestuur en die onwettige gebruik van blouligte. Woordvoerder Xolani Fihla sê toe die voertuig voorgekeer is, het die bestuurder homself voorgestel as die amptelike bestuurder van die burgemeester van die Nala-munisipaliteit in die Vrystaat:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het vandag die bekendstelling van Afrika se voorste reishandelskou in Durban bekendgestel. Die Afrika-reis-indaba 2026 is ‘n vierdaagse geleentheid wat volgende Maandag in die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konversiesentrum begin. Meer as een-duisend-300 uitstallers uit meer as 20 Afrikalande gaan deelneem. De Lille sê die geleentheid sal toerisme bevorder, klein ondernemings ondersteun en ekonomiese geleenthede in Suid-Afrika en Afrika ontsluit:
# Krieket: Die Indiese sakemagnaat wat in die Verenigde Koninkryk gebaseer is, Lakshmi M Mittal, en sy familie het ingestem om die Indiese Premierliga-franchise, Rajasthan Royals, te koop. Die ooreenkoms van sowat 27,5-miljard-rand sluit ook Paarl Royals in Suid-Afrika en Barbados Royals in die Karibiese Eilande in. Die Mittal-familie sal ná die transaksie ongeveer 75-persent van die konsessie besit, en Adar Poonawala van die Serum-instituut van Indië sowat 18-persent. Die bestaande beleggers, insluitend Rajasthan Royals se huidige hoofeienaar, Manoj Badale, behou die orige sewe-persent.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-935-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-562-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 110-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….