Nuus 15:00
BULLETIN 30 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa het aangekondig die plaaslike regeringsverkiesing vind op 4 November plaas
# Minister Hlabisa vra verenigde regeringsoptrede teen Suid-Afrika se waterkrisis
# En atletiek: Akani Simbine is fiks vir die wêreldaflos-byeenkoms in Botswana
# President Cyril Ramaphosa het aangekondig vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing is geskeduleer vir Woensdag, 4 November. Meer hieroor in ons volgende bulletin.
# Ramaphosa sê ook Suid-Afrika se regeringsmodel is gebou op samewerking op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak. Hy het tydens die Uitgebreide Presidensiële Koördineringsraads-vergadering gesê elke vlak het ‘n duidelike rol, van beleid tot instelling en dienslewering. Ramaphosa beklemtoon die raad se rol in die belyning van wat voorrang geniet en die versterking van toesig, om te verseker die regering werk as ‘n verenigde stelsel om die uiteenlopende samelewing doeltreffend te dien:
Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê intussen die drie regeringsvlakke moet saamwerk om wateruitdagings op te los. Hy het aan die raad gesê munisipaliteite is die middelpunt van dienslewering en ekonomiese groei. Hlabisa beklemtoon toegang tot water is ‘n grondwetlike reg en vra dringende, gekoördineerde optrede om bestuur, infrastruktuur en verantwoordbaarheid te verbeter. Hy sê funksionele munisipaliteite is noodsaaklik vir nasionale ontwikkeling en bestendigheid:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die jongste bewerings oor die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe. ‘n Werker wat die departement aangestel en betaal het, het na bewering by ‘n privaat huis gewerk en moes ‘n deel van haar salaris aan ‘n lid van Tolashe se familie oorhandig. Woordvoerder Claude Naicker vra ‘n deeglike ondersoek om seker te maak daar word reg opgetree indien daar enige oortreding was:
# Die Posbank het 31 Augustus as die finale sperdatum gestel vir houers van SASSA se goue kaarte om hul kaarte met nuwe swart kaarte te vervang. Die skuif raak begunstigdes van maatskaplike toelaes reg oor Suid-Afrika. Ou kaarte sal na die sperdatum ophou werk, wat kan lei tot betalingsontwrigtings vir diegene wat nie voldoen nie. Thami Cele van die Posbank sê kliënte sal ook van môre af nie meer bankdienste by Poskantoor-takke kan gebruik nie.
# Atletiek: Akani Simbine van Suid-Afrika is fiks vir die naweek se aflos-byeenkoms van Wêreldatletiek in Gaborone, Botswana. Die 32-jarige het Dinsdag probleme ondervind tydens die mans-100-meter op die eerste Simbine Classic in Pretoria. Hy het later bevestig dit was net erge krampe en nie ‘n ernstige besering nie. Suid-Afrika het op verlede jaar se aflosbyeenkoms in China goud gewen in die mans-vier-maal-100-meter en vier-maal-400-meter, en brons in die vroue-vier-maal-400-meter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-115-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-639-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….