Nuus 15:00
BULLETIN 20 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die skerp styging in die dieselprys kan lei tot beurtkrag
# ‘n Tsoenami-waarskuwing word in Japan uitgereik na ‘n hewige aardbewing in die see
# En rugby: Nieu-Seeland beplan ‘n reuse-aanslag tydens sy toer in Suid-Afrika
# Arbeidsontleders waarsku stygende dieselpryse kan moontlik beurtkrag veroorsaak en dienslewering in die werkplek verswak. Hoër brandstofkoste sal na verwagting druk plaas op Eskom se oopsiklus-gasturbines, wat van diesel afhanklik is. Neil Roets van Debt Rescue waarsku sonder ingryping kan hoër fases beurtkrag terugkeer. Die uitvoerende hoof van Job Crystal, Sasha Knott, het aan IOL gesê brandstoftekorte beïnvloed reeds werkers. Hy sê sake-ondenemings kan tweeledige of afstandwerkmodelle instel om finansiële druk te verlig en produktiwiteit te handhaaf, anders kan dit die behoud van personeellede raak.
# Die Vryheidsfront Plus sê onsekerheid oor Suid-Afrika se motorvervaardigingsektor verdiep weens stadige regeringsbesluitneming en beleidsvertragings. Jaco Mulder van die party waarsku die bedryf, wat 22,6-persent tot die vervaardigingsuitset bydra en honderde-duisende werksgeleenthede ondersteun, verkeer onder druk in wêreldwye mededinging en plaaslike uitdagings. Hy sê swak infrastruktuur, energiebeperkings en stygende koste versnel die verval van nywerhede:
# Staatsaanklaer Tholoana Sekhonyana het aan die Landdroshof in Pretoria-Noord gesê die borgtogbesluit teen die geskorste polisie-sersant Fanni Nkosi moet op die belange van geregtigheid fokus. Sekhonyana het aangevoer bewyse van onverklaarbare kontant en beweerde beplande oortredings toon ‘n geneigdheid tot misdaad. Sy beklemtoon sy vrylating kan ondersoeke belemmer en die staat se saak in gevaar stel, wat daartoe kan lei dat hy geregtigheid ontduik:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Tsoenami is sowat 50-kilometer van die Japannese kus waargeneem na ‘n kragtige aardbewing noordoos van die land. Eerste minister Sanae Takaichi het mense in die betrokke gebiede aangespoor om na hoërliggende gebiede te ontruim. Die openbare uitsaaier, NHK, berig die aardbewing het op ‘n diepte van 10-kilometer voorgekom en is gevoel in die hoofstad, Tokio, honderde kilometer van die middelpunt. Japan se Meteorologiese Agentskap waarsku ‘n groter tsoenami kan die kus tref ná die eerste golf. Tsoenami-waarskuwings is in dele van Hokkaido en Iwate uitgereik.
# Rugby: Nieu-Seeland beplan ‘n reuse-aanslag in vanjaar se toer in Suid-Afrika wat in Augustus afskop. Die spelersgroep kan tot 80 wees. Die All Blacks speel drie toetse teen die Springbokke in Suid-Afrika, en nog een in Amerika. Die besoekers sal ook wedstryde teen die Stormers, die Haaie, die Bulle en die Leeus speel. Nieu-Seeland se afrigter, Dave Rennie, het glo ‘n unieke uitdaging voor die toer want hy het nog klubverpligtinge in Japan tot vroeg in Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-150-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-788-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….