Nuus 15:00
BULLETIN 17 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê Malema se dreigemente teen aanklaers sal gevolge hê
# Die Nkabinde-ondersoek verwerp Shamila Batohi se versoek vir ‘n regsmening
# En atletiek: Gift Leotlela behou sy 100-meter-titel op ASA se senior kampioenskap
# Die Nasionale Vervolgingsgesag veroordeel die EFF-leier, Julius Malema, se dreigemente teen ‘n staatsaanklaer na sy vonnis-oplegging. Die NVG sê die kommentaar, wat op sosiale media geplaas is, kom neer op intimidasie en ondermyn die oppergesag van die reg, en waarsku dat aanklaers toegelaat moet word om hul pligte sonder vrees uit te voer. Kaizer Kganyago van die NVG moedig die publiek aan om enige intimidasie teen wetstoepassingsowerhede aan te meld:
# Die Nkabinde-ondersoek het die voormalige hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, se versoek verwerp om ‘n regsmening te bekom terwyl sy onder eed getuig. Die paneel het beslis dat die verrigtinge sonder onderbreking moet voortgaan. Batohi het aangedui dat sy ‘n onafhanklike regsmening nodig het voor sy voortgaan met haar getuienis. Sy is in Desember gekritiseer omdat sy die verhore verlaat het voordat sy haar getuienis voltooi het. Die kommissie ondersoek die geskorste direkteur van Openbare Vervolging in Suid-Gauteng, Andrew Chauke, se geskiktheid vir die posisie.
# Eskom het ‘n drie-jaar-salarisooreenkoms met die meeste vakbonde gesluit na afloop van sy sentrale bedingingsforum-proses. Die ooreenkoms is onderteken deur die mynwerkersvakbond N-U-M en Solidariteit en sluit ‘n jaarlikse verhoging van sewe-persent in, wat in Julie in werking tree. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die metaalwerkersvakbond Numsa het ‘n dooiepunt verklaar en nie geteken nie, en Eskom is daartoe verbind om steeds alle vakbonde te betrek:
# Die Padvragvereniging kritiseer Transnet Hawe-terminale oor ‘n nuwe brandstofheffing op die hantering van houers teen 52-rand per houer vanaf volgende maand. Uitvoerende hoof Gavin Kelly sê die heffing is misleidend en sal logistieke koste verhoog aangesien houers geen enjins het nie. Hy waarsku die bykomende koste sal aan verbruikers deurgegee word, wat verdere druk op pryse sal plaas te midde van kommer oor hoe die heffing toegepas sal word:
# Atletiek: Die 27-jarige Gift Leotlela het sy nasionale 100-meter-titel in ‘n blitsige 10,15-sekondes verdedig op Atletiek Suid-Afrika se senior baan- en veldbyeenkoms in Stellenbosch. Joviale Mbisha het ook haar titel oor die afstand verdedig in 11,55-sekondes, met Viwe Jingqi tweede. Colette Uys het die skyfwerp oorheers met ‘n gooi van 57,86-meter, terwyl Aiden Smith goud gewen het in gewigstoot. Onder die langafstand-items het Kabela Mulaudzi die eerste keer die 10-duisend-meter gewen, en Tayla Kavanagh het haar persoonlike beste tyd behaal vir ‘n oorwinning in die vyf-duisend-meter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-498-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-785-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….