Nuus 15:00
BULLETIN 16 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema mag appelleer teen sy vonnis maar nie teen sy skuldigbevinding nie
# Die Madlanga-kommissie stel Carrim se getuienis uit tot 29 April
# En motorsport: Racing Bulls sal verbeteringe bekendstel in Miami en Montreal
# Die leier van die EFF, Julius Malema, is toestemming gegee om te appelleer teen sy vonnis van vyf-jaar, maar nie teen sy skuldigbevinding nie. Dit het gevolg op voorleggings deur advokate Laurence Hodes en Tembeka Ngcukaitobi in die Oos-Londense Landdroshof in KuGompo City in die Oos-Kaap. Landdros Twanet Olivier sê daar is ‘n moontlikheid dat ‘n hoër hof kan verskil oor die vonnis, maar sy twyfel nie aan die skuldigbevinding nie:
# Die Madlanga-kommissie het die verskyning van sakeman, Suliman Carrim, tot 29 April uitgestel. Hy sou vandag getuig, maar hy ontvang steeds mediese sorg ná ‘n gesondheids-voorval in ‘n gimnasium in Sandton vroeër hierdie week. Carrim word daarvan beskuldig dat hy meer as twee-miljoen-rand se betalings versteek het aan ‘n onderneming wat verbind word met die omstrede sakeman, Vusimuzi “Cat” Matlala. Hy word ook beskuldig dat hy politieke invloed gebruik het om Matlala te help om ‘n polisie-kontrak van 360-miljoen-rand te bekom, en moontlike geldwassery.
# Statistieke Suid-Afrika sê mynbouproduksie het in Februarie op ‘n jaar-grondslag met 9,7-persent gestyg. Die toename is hoofsaaklik aangevuur deur sterk winste in platinum-groepmetale, chroomerts, mangaan-erts en goud, terwyl dalings in ystererts en steenkool die algehele prestasie benadeel het. Juan-Pierre Terblanche van Statistieke SA sê mineraalverkope het met 58,3-persent toegeneem in vergelyking met die vorige jaar, hoofsaaklik versterk deur skerp stygings in goud en platinum-groepmetale:
# Die DA in Gauteng sê die ineenstorting van Tshwane se rioolwater-bestuurstelsel het rioolbesoedeling veroorsaak wat ‘n gevaar inhou vir inwoners se gesondheid. Woordvoerder Leanne de Jager sê dit het aan die lig gekom in die Departement van Water en Sanitasie se Groendruppel-verslag van verlede jaar, wat ook wys hoe Tshwane se Groendruppel-telling getuimel het van 82-persent in 2013 tot 33.8-persent verlede jaar. Sy sê dis ‘n openbare gesondheids- en omgewingsramp:
# Motorsport: Red Bull se tweede Formule Een-span, Racing Bulls, beplan om opgraderings aan sy motors bekend te stel op volgende maand se Grand Prix in Miami, Amerika, en Montreal in Kanada. Spanbestuurder, Alan Permane sê dit is omdat die wedren in Miami die vierde een van die seisoen sal word na die kansellasie van die wedrenne in die Midde-Ooste. Die span het beplan om die opgraderings in Bahrein en Montreal te gebruik, maar het sy planne verander weens die nuwe rooster. Racing Bulls is tans sewende op die vervaardigerspunteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-354-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-815-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….