Nuus 15:00
BULLETIN 14 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum hoop Malema se vonnis sal die erns van sy oortredings weerspieël
# Die borgtog-aansoek van ‘n pastoor wat beskuldig word van die verkragting van ‘n jong familielid word uitgestel
# En onderhandelings tussen Amerika en Iran kan binnekort hervat om die Midde-Oosterse oorlog te beëindig
# AfriForum hoop die straf weerspieël die erns van die oortredings wanneer die EFF-leier, Julius Malema, se vonnisoplegging môre in die Landdroshof in Oos-Londen in die Oos-Kaap begin. Hy is kragtens die Wet op Vuurwapenbeheer skuldig bevind aan die afvuur van ‘n vuurwapen in die openbaar en die onwettige besit daarvan tydens ‘n EFF-saamtrek in Mdantsane in 2018. Jacques Broodryk van AfriForum sê die staat eis ‘n minimum-vonnis van 15-jaar:
# Die borgtog-aansoek van ‘n 58-jarige pastoor wat beskuldig word van die verkragting van sy 12-jarige familielid, is uitgestel in die Landdroshof in Roodepoort, Gauteng. Dit is om die verdediging toe te laat om verdere persoonlike besonderhede te bekom. Die beskuldigde het na bewering oor Paasnaweek die meisie in sy huis in Dobsonville verkrag. Inwoners, politieke leiers en leerders het voor die hof vergader om geregtigheid te eis. Die saak sal volgende Woensdag hervat te midde van verhoogde veiligheidsmaatreëls.
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, word beskuldig van beweerde misleiding van die Madlanga-kommissie. Getuienisleier Mahlape Sello het teenstrydighede in sy geboorterekords uitgelig tydens ondervraging. Die fokus is op ‘n uitstelversoek wat verband hou met sy ma se dood. Mkhwanazi het aan Sello gesê hy is grootgemaak deur sy stiefma, wat hy as sy ma beskou, en hy ken nie sy biologiese ma nie:
Nuus uit die buiteland:
# Onderhandelingspanne van Amerika en Iran keer moontlik hierdie week terug na Islamabad in Pakistan om gesprekke oor die beëindiging van die Midde-Oosterse oorlog te hervat. Onderhandelings het verlede naweek platgeval, waarna Washington ‘n blokkade op Iranse hawens ingestel het. Dit het woede van Teheran ontlok, maar tekens dat diplomatieke betrokkenheid kan hervat, het gehelp om oliemarkte te kalmeer. ‘n Bron sê albei lande kan reeds teen die einde van hierdie week terugkeer, en die voorstel om hul afvaardigings terug te stuur is met Washington en Teheran gedeel.
# Tennis: Die Barcelona-ope in Spanje ondervind talle hoëprofiel-onttrekkings. Die wêreld-nommer-twaalf, Casper Ruud van Noorweë, en die Kanadees Félix Auger-Aliassime het voor hulle eerste wedstryde onttreek weens uitputting, terwyl die Fransman Ugo Humbert en die plaaslike speler Alejandro Davidovich Fokina ook nie meer gaan speel nie. Die agste-gekeurde Brit Jack Draper moes gister tydens sy wedstryd onttrek weens ‘n knie-besering. Dit vergemaklik die roete na die titel vir die topgekeurde Spanjaard Carlos Alcaraz, wat vanmiddag sy eerste wedstryd teen die Finse kwalifiseerder Otto Virtanen speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-450-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-781-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….