Nuus 15:00
BULLETIN 8 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbuyiseli Madlanga beklemtoon die verhoogde verkrygingskorrupsie in metro-departemente
# Minister Motsoaledi bevestig die verspreiding van die lenacapavir-inspuiting ná die komende bekendstelling
# En rugby: Lawes hoop om weer vir Engeland te speel na sy nuwe kontrak met Sale Sharks
# Die voorsitter van die Madlanga-kommissie, Mbuyiseli Madlanga, is bekommerd oor die maklike gevaar van korrupsie in munisipale verkrygingsprosesse. Hy het tydens die hoof van die Tshwane-metropolisie, Yolande Faro, se getuienis gesê teenstrydighede in tenderdokumente tussen indiening en beoordeling dui op moontlike onbehoorlikheid en manipulering. Madlanga waarsku amptenare kan korrupsie moontlik maak deur nie die behoorlike beheermaatreëls te volg nie, selfs onder druk van gesagsfigure:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê ‘n tweejaarlikse MIV-voorkomingsinspuiting sal ná die bekendstelling versprei word na 350 oorbelaste gesondheidsgeriewe. Altesaam 37-duisend-920 dosisse het vanaf Ierland aangekom. Die middel, wat Gilead Sciences ontwikkel het, is daarop gemik om voorkomingskeuses uit te brei en nakoming te verbeter. Motsoaledi sê dit sal kwesbare groepe bevoordeel, insluitend sekswerkers en selfde-geslag-paartjies. Hy sê die bekendstellingsdatum word binnekort verwag, met die verspreiding wat na verwagting volgende maand sal begin. Suid-Afrika is die eerste Afrika-land wat lenacapavir versprei.
# Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika, Brent Bozell, verwelkom die skietstilstand tussen Amerika, Israel en Iran en beskryf dit as ‘n positiewe stap na bestendigheid. Die skietstaking is deur Pakistan bemiddel en volg ná 40-dae van reuse-gevegte. Dit verlig spanning in die Midde-Ooste en die strategies-belangrike Seestraat van Hormoes is heropen. Dit verminder ook vrese vir ‘n wyer streeksoorlog en het internasionale oliemarkte laat herstel. Bozell hoop op ‘n blywende oplossing:
# Rugby: Die veteraan-voorspeler Courtney Lawes hoop dat sy eenjaarkontrak by Sale Sharks uiteindelik sal lei tot ‘n terugkeer na Engeland se nasionale span. Die 37-jarige het die laaste van sy 105 toetse in 2023 gespeel, toe hy ná die Wêreldbeker uit internasionale rugby getree het. Hy het in die Wêreldbeker in 2019 gespeel toe Engeland in die eindstryd teen die Springbokke verloor het en het ook die Britse en Ierse Leeus in vyf wedstryde verteenwoordig. Lawes keer terug na Engelse hoëvlak-rugby ná twee jaar by die Franse tweedeligaklub, Brive.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-590-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-786-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-35-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Johannesburg vra die publiek om kommentaar te lewer oor die hernoeming van vier strate rondom die St Mary’s-katedraal. Pleinstraat sal Desmond Tutu-straat word ter ere van die Nobelpryswenner vir Vrede en anti-apartheidsaktivis. Wanderers-straat sal na Simeon Nkoane-straat verander ter ere van die Anglikaanse priester en leier, met De Villiersstraat wat na die anti-apartheidsbiskop Trevor Huddleston vernoem sal word. Hoekstraat sal voortaan as Katedraalstraat bekend staan ter erkenning van die ou katedraal. Die publiek kan tot 5 Mei insette lewer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….