Nuus 15:00
BULLETIN 7 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van die Tshwane-metropolisie verduidelik die stadsbestuurder het geen gesag oor aanstellings nie
# ‘n Polisie-kaptein word borgtog van 50-duisend-rand toegestaan in ‘n bedrogsaak van miljoene rand
# En padwedlope: Kaapstad is gereed vir die Twee Oseane-marathon
# Die hoof van die Tshwane-metropolisie, Yolande Faro, beklemtoon die stadsbestuurder hou wel toesig oor haar aanstelling, maar kan nie inmeng met bedryfs-personeelbesluite nie. Dit volg ná die Madlanga-kommissie se kommissaris, Sisi Baloyi, ‘n verduideliking gevra het nadat getuienisse van Ekurhuleni se Metropolisie kommer laat ontstaan het oor bestuur en aanspreeklikheid in munisipale wetstoepassingstrukture. Faro verklaar wetgewing wys haar die verantwoordelikheid toe vir werwing, bevorderings en oordragte in die munisipale polisiediens:
# Die Landdroshof in Pretoria het ‘n polisiekaptein verbonde aan die Beskermings- en Sekerheidsdienste, Johannes van Rensburg, borgtog van 50-duisend-rand toegestaan op aanklagte van bedrog en diefstal. Die 53-jarige het na bewering die polisie se Finansiële Bestuurstelsel gemanipuleer om miljoene rand te herlei wat vir die reiskoste van presidensiële beskerming geoormerk was. Die saak is tydens ‘n interne ondersoek ontdek, waarna hy geskors is. Die polisie se Teen-Korrupsie-eenheid se ondersoek na die saak duur voort, en Van Rensburg moet weer op 30 Julie in die hof verskyn.
# Die finansiële ontleder Ciaran Ryan waarsku Suid-Afrika se vervoerhervormings kan foute herhaal wat in die gedeeltelike privatisering van Telkom raakgesien is. Hy skryf in ‘n meningsartikel op Moneyweb Transnet se behoud van meerderheidsbeheer in sleutelprojekte kan privaat belegging afskrik en die uitwerking van hervorming beperk. Kommer bestaan oor vennote se regulatoriese laste en onduidelike risiko-deling. Die regering fokus daarop om infrastruktuur te vernuwe en doeltreffendheid te verhoog, maar Ryan voer aan hervormings sonder groter onafhanklikheid vir privaat rolspelers kan ekonomiese groei vertraag en die sektor se langtermyn-volhoubaarheid ondermyn.
# South Africans for Constitutional Reforms sê die hersiene Witskrif oor burgerskap en immigrasie is daarop gemik om Suid-Afrikaners sowel as migrante te beskerm. Die beleid sal na kabinetsgoedkeuring bestaande wette binne ‘n enkele raamwerk saamvoeg. Die veranderinge stel maatreëls bekend, insluitend die beginsel van die eerste veilige land vir asielsoekers, terwyl kommer oor die doeltreffender bestuur van migrasie aandag kry. Woordvoerder Princy Mthombeni sê die huidige stelsel is gefragmenteerd en moet hervorm word:
# Padwedlope: Kaapstad bied komende naweek die ikoniese Twee Oseane-marathon aan, wyd bekend as die wêreld se mooiste wedloop. Die organiseerder, Michael Meyer, sê die geleentheid groei steeds in aansien en lok duisende plaaslike en internasionale atlete. Gekombineerde prysgeld van 2,6-miljoen-rand is bevestig vir die onderskeie afdelings. Die wedloop dra ook aansienlik by tot die plaaslike ekonomie en lok plaaslike en internasionale toeriste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-324-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-649-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….