Nuus 15:00
BULLETIN 1 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK beklemtoon vertroue en hernuwing voor die verkiesing
# Binnelandse Sake brei sy slim ID-dienste uit na 110 banktakke
# En rugby: Die Springbok-slot RG Snyman is uit vir die res van die seisoen
# Die voorsitter van die Verkiesingskommissie, Mosotho Moepya, sê die land betree ‘n kritieke fase voor vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing. Hy het in Gauteng gepraat tydens die onthulling van die verkiesingsembleem met die slagspreuk “Staan Op, Daag op, Stem”. Moepya beskryf die oomblik as ‘n herbevestiging van demokratiese waardes. Hy beklemtoon vry en regverdige verkiesings bly ononderhandelbaar, met die kommissie wat verbind is tot deursigtigheid, verantwoordbaarheid en die herstel van kiesersvertroue:
# Die Departement van Binnelandse Sake het sy teiken oortref toe die Digitale Vennootskapsmodel, wat na 100 banktakke moes uitbrei, 110 takke landwyd bereik het. FNB het by Capitec en Standard Bank aangesluit om slim ID-vervangingsdienste aan te bied en binne slegs drie weke toegang met 44-persent uitgebrei. Die woordvoerder, André Gaum, sê burgers kan verlore groen ID-boekies of slim ID’s binne minute vervang sonder vooraf besprekings, ondersteun deur veilige vingerafdruk- en gesigsherkenningstegnologie.
# Vyf mense het vanoggend in ‘n botsing op die N1 naby Modimolle in Limpopo gesterf. Die oorsaak van die botsing tussen ‘n bakkie en ‘n motor is nog onduidelik. Verkeer word herlei, met die noordelike baan in die rigting van Polokwane wat geraak word en moontlike tydelike padsluitings wat kan volg. Owerhede sê besonderhede is nog vaag, insluitend die aantal beseerdes. Die ongeluk volg te midde van verhoogde verkeersvolumes oor Paastyd.
Limpopo se premier, Phophi Ramathuba, sê intussen die provinsie is gereed om vakansiegangers en pelgrims oor die Paasnaweek te verwelkom. Duisende pelgrims word verwag by die Paaskonferensie van die Zion-Christenkerk en die Saint Engenas ZCC-hoofkwartier in Moria, oos van Polokwane. Die provinsiale regering se woordvoerder, Thilivhali Muavha, sê wetstoepassingsowerhede is reeds op hoë gereedheidsgrondslag om almal se veiligheid te verseker:
# Rugby: Die ster-Springbok-slot RG Snyman is weens ‘n geskeurde knieligament uit vir die res van die seisoen. Die 31-jarige het die besering opgedoen tydens ‘n onlangse Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd vir sy Ierse klub, Leinster. Dit is die derde kniebesering van sy loopbaan en die hersteltydperk is gewoonlik tussen ses en nege maande. Die groep het egter verskeie plaasvervangers vir die Bok-afrigter, Rassie Erasmus. Gevestigde name sluit in Eben Etzebeth, Ruan Nortjé, Lood de Jager, Jean-Luc du Preez, Jean Kleyn, Salmaan Moerat en Franco Mostert.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-594-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-744-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….