Nuus 15:00
BULLETIN 26 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa kondig die hersiene beleid vir kragpryse aan
# Die GOOD-party sê daar is ‘n dringende behoefte aan ‘n nuwe senior bestuursvlak in die polisie
# En rugby: Kaartjies vir die eerste Nasieskampioenskap is volgende week te koop
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê ‘n hersiene elektrisiteitsprysbeleid sal binne weke vir openbare kommentaar vrygestel word. Hy het die Parlement toegespreek en kommer oor bekostigbaarheid erken, aangesien tariewe vanaf April met meer as agt-persent vir Eskom-kliënte gestyg het. Ramokgopa het ook planne uiteengesit om lasvermindering deur middel van slimmeters, infrastruktuuropgraderings en uitgebreide gratis basiese elektrisiteit uit te skakel. Hy het bygevoeg dat meer as 199-duisend huishoudings reeds van lasverminderingskedules verwyder is.
# Die GOOD-party sê daar is ‘n dringende behoefte aan ‘n nuwe senior bestuursvlak in die polisie. Dit volg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola met ’n dagvaarding bedien het omdat hy verbind word met die onreëlmatige toekenning van ‘n Medicare 24 tender van 360-miljoen-rand. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê dit is ‘n reuse-terugslag vir misdaadbestryding en openbare vertroue.
# Die DA in Gauteng vra die regering om die keuringsproses van individue wat met kinders werk teen die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders in alle departemente voorop te stel. Die provinsiale Onderwysdepartement het onlangs onthul slegs elf-persent van die 86-duisend-367 werknemers het klaringsertifikate ontvang en slegs 28-duisend-530 keuringsaansoeke is ingedien. Die DA-lid, Michael Waters, sê van die aansoeke is 24-duisend-260 deur die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling ontvang, met drie-duisend-834 verwerpte aansoeke:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie waarsku eienaars van sekere 2022–2026 Ford Transit- en Transit/Tourneo-voertuie teen ‘n veligheidsgevaar. Die hoof van klagtes en ondersoeke, Prudence Moilwa, sê dit raak 582 voertuie landwyd. Voertuie met H7 AGM-batterye kan ‘n slegte reuk, sisgeluide, gasafvoer of ongewone hitte ervaar, wat insittendes moontlik blootstel aan waterstof-sulfiedgas. Eienaars word gevra om handelaars te besoek vir gratis herstelwerk:
# Rugby: Kaartjies vir die eerste Nasieskampioenskap-toetse in Suid-Afrika, wanneer die Springbokke Engeland, Skotland en Wallis pak, sal vanaf volgende Donderdag te koop wees. Die wêreldkampioene open hul veldtog teen Engeland op 4 Julie in Johannesburg, voor hulle Skotland op 11 Julie in Pretoria aanpak, en dan is dit die 18de Julie Wallis in Durban. Kaartjies kos vanaf 450-rand vir die kragmeting teen Engeland, 375-rand vir Skotland en 250-rand vir Wallis. Kaartjies vir die Bokke se seisoen-openingswedstryd teen die Barbarians in Junie is reeds beskikbaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-398-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-449-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….