Nuus 15:00
BULLETIN 19 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus waarsku oor dreigende brandstoftekorte ten spyte van regeringsversekerings
# Kenners meen breër samelewingsreaksie word benodig teen bendes
# En rugby: Hanekom is terug in die voorspelerspak vir die Bulle in hul VRK-botsing teen Cardiff
# Terwyl die Departement van Minerale en Petroleumbronne sê Suid-Afrika het genoeg brandstof ten spyte van die konflik in Iran, waarsku die Vryheidsfront Plus dat briewe van verskaffers toon vulstasies sukkel om voorraad te kry. Wynand Boshoff van die party sê sommige vulstasies het geen voorrraad nie, wat vrese vir tekorte laat ontstaan. Hy sê kenners meen vertraagde invoere en die moontlike opgaar van voorraad voor volgende maand se brandstofprysverhoging, kan die situasie en die ekonomie vererger:
# President Cyril Ramaphosa is hartseer oor die afsterwe van Nicholas “Fink” Haysom, in die ouderdom van 73. Haysom was president Nelson Mandela se hoofregsraadgewer en die Verenigde Nasies se verteenwoordiger in Afghanistan, Somalië, Suid-Soedan en Irak. Haysom het ook die vredesonderhandelinge in Burundi voorgesit en bygedra tot Soedan se vredesproses. Ramaphosa het sy toewyding aan menseregte, geregtigheid, grondwetlike ontwikkeling en vrede geprys en noem hom ‘n pionier en sê sy leiding het Suid-Afrika, Afrika en die wêreld gevorm.
# ‘n Seminaar oor bendes by die Universiteit van die Wes-Kaapland het aan die lig gebring dat polisiëring alleen nie die groeiende bendesubkultuur kan bekamp nie. Belanghebbendes uit die regering, die burgerlike samelewing en wetstoepassing is byeen om oorsake en oplossings vir die probleem aan te spreek. Die voormalige speurhoof Jeremy Veary, sê dis noodsaaklik om die polisie te bemagtig terwyl sosiale mislukkings aangepak word. Hy waarsku die bendekultuur is diep gesetel en benewens wetstoepassing is kollektiewe optrede noodsaaklik.
# Kaapstad het ‘n tien-jaar infrastruktuurplan van 120-miljard-rand bekendgestel, die grootste in Suid-Afrika. Dit sal na verwagting sowat 130-duisend konstruksie-werksgeleenthede skep met ‘n aanvanklik ekonomiese impak van 17-miljard-rand. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê 75-persent van die begroting bevoordeel laerinkomste huishoudings deur verbeterde water, sanitasie, paaie, openbare vervoer, behuising en openbare ruimtes. Hy sê Kaapstad se besteding oorskry reeds dié van Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni gesamentlik, met groot projekte soos die MyCiTi-uitbreiding:
# Fossielbrandstofpryse hou aan styg, met olie wat vanoggend ‘n nuwe hoogtepunt bereik het sedert die begin van die oorlog in Iran. ‘n Vat Brent-ru-olie het vlugtig teen meer as 118-dollar-per vat verhandel, die hoogste sedert Junie 2022. Vroeër vanoggend het die prys van gas in Brittanje met 28-persent gestyg vir ‘n driejaar-hoogtepunt. Dit volg te midde van aanvalle op produksie-aanlegte, wat vrese oor voorraad verhoog terwyl olie-tenkskepe sukkel om deur die Iran-beheerde Seestraat van Hormoes te beweeg. ‘n Vyfde van die wêreld se olie- en gasvoorrade beweeg deur hierdie strategies belangrike seestraat.
# Rugby: Die Bulle het die span aangekondig wat Vrydag in ‘n tuiswedstryd teen Cardiff te staan kom. Verskeie taktiese aanpassings is aangebring aan die span wat verlede week teen die Stormers gespeel het. Die veelsydige Cameron Hanekom maak sy terugkeer op die bank nadat hy nege maande weens ‘n besering afwesig was. Die begin-voorry sien ‘n verandering op vaskop, met Francois Klopper wat vir Wilco Louw instaan. Cobus Wiese skuif van die bank en begin as slot om Ruan Nortje te ondersteun, terwyl Ruan Vermaak na die plaasvervangers skuif.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-76-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-673-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 109-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….