Nuus 15:00
BULLETIN 18 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nhlanhla Mkhwanazi kritiseer die ad hoc-komitee se voortydige oordeel, maar prys sy werksetiek
# Die DA eis antwoorde nadat die regbank versuim om oor laat uitsprake verslag te doen
# En rugby: Argentinië hoop om die Wêreldbekertoernooi in 2035 in Suid-Amerika aan te bied
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het sekere lede van die parlementêre ad hoc-komitee gekritiseer wat sake skynbaar voortydig beoordeel het sonder om op bewyse te fokus. Hy het getuig op die laaste dag van die ondersoek na beweerde politieke inmenging in die strafregstelsel. Mkhwanazi beklemtoon die komitee se rol is nie om voortydige gevolgtrekkings te maak nie. Hy het egter die Parlement se toewyding geprys en sê dit weerspieël verantwoordbaarheid:
# Die DA sê hy het die hoofregter gevra vir ‘n verduideliking oor die regbank se versuim om statistieke oor laat uitsprake bekend te maak. Die vorige verslag in Oktober 2025 het slegs inligting bevat oor laat uitsprake in die tweede kwartaal van verlede jaar. DA-woordvoerder Glynnis Breytenbach sê indien die statistieke bekendgestel word en toon dat regters oorlaai is, moet die aanstelling van bykomende regters dringend oorweeg word:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die verkoop van een-duisend-600 staatsgeboue aangekondig as deel van die regering se plan om openbare bates te stroomlyn en inkomste te verdien. Die eiendomme sluit kantore, pakkamers en onderbenutte geriewe in. Macpherson sê die proses sal deursigtig wees, met voorkeur aan openbare-privaat vennootskappe en plaaslike beleggers. Hy gee die versekering noodsaaklike regeringsdienste sal nie geraak word nie en die opbrengs sal infrastruktuur- en diensleweringsverbeterings ondersteun.
# Rugby: Argentinië hoop om die Wêreldbekertoernooi in 2035 die eerste keer na Suid-Amerika te bring. Hy werk saam met die unies van Brasilië, Chile en Uruguay om hulle moontlik by die toernooi te betrek. Die uitvoerende hoof van Wêreldrugby, Alan Gilpin, gaan die voorstel met die president van die Argentynse beheerliggaam, Gabriel Travaglini, bespreek. Travaglini sê hulle wil ‘n toernooi aanbied wat die passie en die vordering van rugby in die land weerspieël. Australië bied die toernooi volgende jaar aan en Amerika in 2031.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-993-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-971-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-53-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Tshwane het die bod ontvang om vanjaar se Gastronomie Afrika-konferensie aan te bied. Die geleentheid in Augustus sal na verwagting besoekers van reg oor die wêreld lok. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, Sarah Mabotsa, sê die konferensie en uitstalling behoort sowat 6,7-miljoen-rand tot die plaaslike ekonomie by te dra. Sy sê die geleentheid sal ook die plaaslike toerismesektor ‘n goeie hupstoot gee:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….