Nuus 15:00
BULLETIN 16 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie D se vermeende sluipmoordenaar is ‘n voormalige lid van ‘n polisie-taakmag
# ‘n Hommeltuig-aanval ontwrig vlugte in Dubai
# En tennis: Novak Djokovic onttrek aan die Miami Ope weens ‘n besering
# ‘n Voormalige lid van die polisie se spesiale taakmag, Matipandile Sotheni, is geïdentifiseer as die vermeende moordenaar van ‘n getuie voor die Madlanga-kommissie. Marius van der Merwe is in Desember in Brakpan, Gauteng, doodgeskiet. Sotheni het in die plaaslike Landdroshof verskyn op aanklag van onder meer moord. Woordvoerder Athlenda Mathe sê die polisie glo Sotheni het saam met die oud-reservis Wiandré Pretorius gewerk, wat intussen sy eie lewe geneem het:
# Forum for South Africa vra verhoogde sigbare wetstoepassing en intelligensie-gedrewe operasies in Eldoradopark, Gauteng, en omliggende gebiede. Dit volg ná Saterdagaand se skietery waarin twee mense dood en ses gewond is. Niemand is in hegtenis geneem nie. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die barbaarse daad beklemtoon weereens die skrikwekkende vlakke van geweldsmisdaad wat gewone Suid-Afrikaners daagliks moet verduur:
# President Cyril Ramaphosa sê ‘n doeltreffende vervoerstelsel is noodsaaklik vir ekonomiese groei en geleenthede. Hy het op die eerste Nasionale Vervoerkonferensie in Midrand gepraat. Ramaphosa beskryf vervoer as noodsaaklik en sê doeltreffende logistiek help om goedere vanaf plase, myne en fabrieke na markte te vervoer en verbeter toegang tot werk. Hy beklemtoon ook groeiende mededinging en samewerking reg oor vervoernetwerke in Afrika:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Arabiese Emirate het aangekondig sekere vlugte vanaf die Dubaise Internasionale Lughawe sal herlei word nadat ‘n hommeltuig-aanval vanoggend ‘n brand naby die lughawe veroorsaak het. Burgerlike verdedigingspanne het die brand suksesvol onder beheer gebring, en geen beserings is aangemeld nie. Dubai se Burgerlugvaartowerheid sê hulle het vlugte as ‘n voorsorgmaatreël opgeskort, maar nie gesê wanneer dit hervat sal word nie. Sekere vlugte is herlei na die Al Maktoum Internasionale Lughawe.
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Novak Djokovic, het hom aan die Miami Ope in Amerika onttrek weens ‘n skouerbesering. Die 38-jarige Serwiër het verlede week aan die Indian Wells-meesterstoernooi deelgeneem, waar hy in die vierde ronde teen die Brit Jack Draper verloor het. Dit was sy eerste toernooi sedert hy in Januarie teen die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje, verloor het in die eindstryd van die Australiese Ope. Djokovic het die titel in Miami ses keer gewen. Die tweede toernooi van die sogenaamde Sonskyn Dubbel begin môre.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-604-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-20-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….