Nuus 15:00
BULLETIN 13 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Valke-taakspan keer vier verdagtes aan in ontvoeringsake in die Oos-Kaap
# Krieket: Die Wes-Kaapse regering ken 15-miljoen-rand toe vir voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi
# En die UDM vra die Parlement om Lekota te vereer
# Die Valke het ‘n deurbraak gemaak in ‘n reeks gewelddadige ontvoeringsake in die Oos-Kaap. Vier verdagtes het in Mdantsane se Landdroshof verskyn vir verskeie moorde, ontvoerings en rooftogte wat in Augustus verlede jaar in verskeie dele van die Buffalo City-munisipaliteit aangemeld is. Polisiewoordvoerder Ndiphiwe Mhlakuvana sê die verdagtes het na bewering ‘n wit Toyota Fortuner gebruik, wat gehelp het om hulle met die voorvalle te verbind:
# Die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso, sê die grondherverdeling-oorhandiging in Mpumalanga herstel waardigheid en identiteit aan onteiende gemeenskappe. Titelaktes wat aan die Mtshoeni-Mtsweni-familie in Mpumalanga oorhandig is, dek meer as 627 hektaar wat 18 huishoudings bevoordeel, met wortels wat terugdateer tot die 1700’s. Nyhontso sê dis deel van die regering se pogings om grondhervorming te versnel en ekonomiese geleenthede aan gemeenskappe uit te brei:
# Die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Alexandra Abrahams, sê regeringsprogramme help vernuwende maatskappye in die lugvaart- en verdedigingsektor om te groei en wêreldwyd mee te ding. Sy het Reutech-radarstylsels in Stellenbosch tydens ‘n toesigbesoek uitgelig as ‘n begunstigde van programme wat verskaffers-ontwikkeling en uitvoer-bevordering ondersteun. Abrahams sê die sektor belê jaarliks sowat 500-miljoen-rand in navorsing en tegnologie-ontwikkeling en het sowat twaalf-duisend-500 hoogsgeskoolde ingenieurs, tegnici en ambagslui in diens, wat ekonomiese groei, uitvoere en werkskepping bevorder.
# Krieket: Die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, verwelkom die provinsiale regering se toewysing van 15-miljoen-rand vir voorbereidings vir volgende jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi vir mans. Die toernooi word in Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië gespeel. Mackenzie sê die toegekende fondse sal gedeel word tussen Boland Krieket en die Westelike Provinsie-krieketvereniging vir die opgradering en bou van infrastruktuur vir die toernooi:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-322-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-90-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 97-dollar-78-sent per vat.
# En laastens, die United Democratic Movement het die Parlement versoek om die ontslape politikus Mosiuoa Lekota formeel te vereer. Die party het die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, gevra vir gepaste erkenning vir Lekota, wat op 77-jarige ouderdom in Johannesburg oorlede is. Die UDM-parlementslid Nqabayomzi Kwankwa het ‘n spesiale gesamentlike parlementêre sitting of gedenkdiens voorgestel om sy bydrae tot Suid-Afrika se demokrasie te erken. Lekota word die naweek in die Vrystaat begrawe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….