Nuus 15:00
BULLETIN 12 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola waarsku oor geopolitieke spanning en Afrika se toenemende skuldkrisisse
# Rusland verskerp hommeltuig-aanvalle op Oekraïnse spoorweë
# En rugby: Marco van Staden speel Saterdag sy 100ste wedstryd vir die Bulle teen Stormers
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, is bekommerd oor toenemende geopolitieke konflikte. Hy waarsku die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskapsraad se ministeriële vergadering in Pretoria dat toenemende ekonomiese wisselvalligheid, energie- en voedselsekerheidsgevare en klimaatverwante skokke die streek ontwrig. Lamola vra diplomasie om konflikte op te los, veral in die Midde-Ooste en die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo. Hy waarsku die toenemende skuldkrisis bedreig maatskaplike besteding en ontwikkelingsvordering:
# Die geskorste hoof van die polisie se Georganiseerde Misdaadeenheid, Richard Shibiri, getuig voor die Madlanga-kommissie oor ‘n lening wat hy van die omstrede sakeman, Vusimusi Matlala, ontvang het om sy seun se motor te herstel. Kommissaris Mbuyiseli Madlanga het aangedui Shibiri het nie die geld nodig gehad nie. Shibiri sê hy het redes gehad om die lening te aanvaar, dit is ten volle terugbetaal, en hy staan by sy optrede:
# Verskeie leerders van ‘n skool in Wentworth, KwaZulu-Natal, ontvang mediese hulp ná ‘n vermeende gaslekkasie in die skool in die suide van Durban, waarvan die bron tans onbekend is. Nooddienste is uitgeroep nadat die kinders asemhalingsprobleme ondervind het. Owerhede is op die toneel om die situasie te beoordeel.
Nuus uit die buiteland:
# Oekraïne se openbare spoorwegonderneming berig Rusland val sedert vroeg die maand toenemend lokomotiewe, vragwaens en spoorweg-onderhoudstoerusting aan. Die land se energie-infrastruktuur word ook geteiken. In die jongste voorval het ‘n Russiese hommeltuig ‘n passasierstrein met 200 mense vanaf Kiëf onderweg na Sumy getref. ‘n Militêre kenner, Pavlo Narozhnyi, het aan Deutsche Welle gesê die aanvalle is nie ongewoon nie, maar deel van ‘n wyer strategie om logistieke, uitvoer- en militêre voorsieningslyne te tref.
# Rugby: Die Springbok-flank Marco van Staden speel sy 100ste wedstryd vir die Bulle in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Stormers op Loftus Versfeld. Die 30-jarige het in 2017 in Pretoria aangekom, in 2021 na Engeland verhuis en die volgende jaar teruggekeer. Kaptein Marcell Coetzee beskryf Van Staden as ‘n vreeslose speler en sê hy speel altyd met sy volle hart en siel. Die Bulle is tans agtste op die punteleer terwyl die Stormers na die vyfde plek teruggesak het nadat hulle onlangs die spoor byster geraak het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-549-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-178-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….