Nuus 15:00
BULLETIN 6 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering voorsien 1,4-miljard-rand vir bek-en-klouseer-inentings
# Iran sê hy teiken die hart van Tel Aviv
# En rugby: Erasmus is tevrede met die grondslag wat gelê is op die eerste Bok-belyningskamp
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het bevestig die regering het 1,4-miljard-rand voorsien om bek-en-klouseer te beveg, terwyl bykomende befondsing versoek is. Die regering betaal die inentings ten volle as deel van ‘n nasionale veldtog. Steenhuisen sê entstowwe wat vanaf Argentinië en Turkye verkry is, word reeds oor provinsies versprei. Hy het aan Newzroom Afrika gesê die land beoog om teen Desember ongeveer 80-persent van vee in te ent:
# Die Madlanga-kommissie verduidelik besluite rondom getuies wat in camera getuig, hang af van die aard van hul bewysstukke. Dit volg nadat ‘n sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, ‘n geslote sitting versoek het, met verwysing na dreigemente. Kommissarisse sê sy versoek om toegang tot sy aansoekdokumente te beperk, regverdig nie duidelike regsgronde nie. Kommissaris Sandile Khumalo sê sulke aansoeke moet genoeg bewyse lewer voor vertroulikheidsmaatreëls toegestaan word:
# Die Stad Kaapstad se Brand- en Reddingsdienste het bevestig nege minibus-taxis is vanoggend verwoes in ‘n brand op die Nyanga-taxistaanplek in Emms-rylaan. Woordvoerder Jermaine Carelse sê hulle het rondom eenuur vanoggend oproepe ontvang oor voertuie wat aan die brand is:
Nuus uit die buiteland:
# Iran sê hy teiken die hart van die Israelse stad Tel Aviv met missiele. Israel het op sy beurt swaar lugaanvalle op Hizbollah-beheerde dele van die Libanese hoofstad, Beiroet, uitgevoer en infrastruktuur in die Iranse hoofstad, Teheran, geteiken. Iran se Islamitiese Revolusionêre Wag sê missiele is in die rigting van Tel Aviv afgevuur as deel van die 21ste deel van sy Operasie True Promise. ‘n Gesamentlike missiel- en hommeltuigoperasie het gebiede in die stad geteiken, maar geen ongevalle is aangemeld nie.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus is tevrede met die Bokke se eerste belyningskamp vanjaar, wat gisteraand afgehandel is. Die driedaagse kamp het Dinsdag begin met ‘n reeks omvattende raadsaal-vergaderings oor sleutelgebiede van die spel en afrigters se verwagtinge, sowel as die makroplan vir die seisoen. Erasmus sê dit was lekker om almal van aangesig tot aangesig te sien en die bedryfsfasette vir die jaar te verduidelik, sowel as die afrigtingsgebiede, wat waarskynlik die belangrikste is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-557-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-94-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 86-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….