Nuus 15:00
BULLETIN 3 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge gaan munisipale besteding ondersoek
# Iran waarsku skepe om nie die Seestraat van Hormuz te gebruik nie
# En motorsport: FIA se besluit oor F1-wedrenne in die Midde-Ooste sal bepaal word deur veiligheid en welstand
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge gaan toesig oor plaaslike regeringsbesteding verskerp te midde van kommer oor fondse wat vermors word. Die voorsitter, Songezo Zibi, sê munisipaliteite moet verduidelik waarom begrotings wat vir dienste geoormerk is, nie gemeenskappe bereik nie. Hy sê die hersiening is in ooreenstemming met die nasionale begrotingsproses. Zibi sê dit sal fokus op sleutelmetro’s en infrastruktuurprojekte, in samewerking met die Ouditeur-generaal en die Spesiale Ondersoekeenheid, om strenger verantwoordbaarheid af te dwing en herhalende finansiële wanbestuur te voorkom.
# Die ANC in die Groter Johannesburg-streek vra ‘n deeglike en dringende ondersoek na die omstandighede rondom die gebou-instorting in Ormonde. Ses mense se dood is bevestig nadat ‘n gedeelte van die struktuur wat in aanbou was, meegegee het. Die herwinning van twee ander liggame is aan die gang, terwyl een persoon nog vermis word. Woordvoerder Mantombi Nkosi sê die ondersoek moet bepaal of gesondheids-, veiligheids- en arbeidsregulasies nagekom is:
# Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke is bekommerd oor die dodelike militêre optrede in die Midde-Ooste. Amerika en Israel se gesamentlike aanslag op Iran het wraakaanvalle ontlok, insluitend op lande waar Amerikaanse Weermagbasisse is. Die raad se hoofsekretaris, Mzwandile Molo, sê hierdie gevaarlike toename in geweld plaas miljoene burgerlikes in onmiddellike gevaar, ondermyn streeks- en internasionale veiligheid en bedreig die reeds kwesbare ekonomie en maatskaplike bestendigheid in die Midde-Ooste:
Intussen sê die Iranse Revolusionêre Wagte die Seestraat van Hormuz is gesluit en alle skepe wat probeer deurgaan sal aangeval word. Dit is sy ernstigste waarskuwing sedert die uitvoerroete Saterdag gesluit is en dreig om ‘n vyfde van die wêreldwye olievloei te onderdruk en ru-oliepryse skerp te laat styg. Iranse staatsmedia haal ‘n senior amptenaar, Ebrahim Jabari, aan wat sê indien iemand probeer om deur te gaan, sal die Vloot die skip aan die brand steek. Die aangetekende dodetal in die Amerikaans-Israeliese aanvalle het intussen tot 787 gestyg.
Die president van die motorsport-wêreldbeheerliggaam F-I-A, Mohammed Ben Sulayem, sê intussen besluite oor Formule Een-wedrenne in die Midde-Ooste sal bepaal word deur almal se veiligheid en welstand. Die konflik in die Midde-Ooste het onsekerheid veroorsaak oor die aanbieding van volgende maand se wedrenne in Bahrein en Saoedi-Arabië, sowel as die Uithou-kampioenskap in Katar aan die einde van hierdie maand. Ben Sulayem sê hulle hoop op kalmte en ‘n vinnige terugkeer na bestendigheid, en monitor die situasie noukeurig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-804-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-197-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….