Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Toenemende oproepe vir die hervorming van die Monetêre Beleidskomitee
# Die GOOD Party sê gesinne wat huise in die Kaapse Wynland-brande verloor het, kan nie sonder hulp herbou nie
# En, sierskaats: Kamila Valieva van Rusland is vir vier jaar geskors vir opkikkergebruik
# Daar is toenemende oproepe vir die hervorming van die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee om dit ‘n beter weerspieëling van die Suid-Afrikaanse bevolking te maak. Die ekonomiese raadgewer Roelof Botha meen die land se ekonomie en huishoudings word verder benadeel deur die aggressiewe houding oor rentekoerse. Hy het in ‘n onderhoud met eNCA gevra vir die uitbreiding van die komitee om meer inklusief te word. Botha vra dat meer finansiële instellings en belanghebbendes in die bedryf moet deel uitmaak van die hervorming:
# Die GOOD Party in die Wes-Kaap sê ‘n week nadat huise in die verwoestende brand naby Wolseley in die Kaapse Wynland vernietig is, kon baie mense weens ʼn gebrek aan ondersteuning nog nie begin herbou nie. Die brand wat na Bainskloof/Slanghoek en Elandsberg versprei het, het meer as 100 strukture beskadig. Janke Tolmay van die GOOD Party sê hulle vra mense op munisipale en provinsiale vlak om dringend noodfondse by die nasionale Departement van Menslike Nedersettings aan te vra:
# Die Europese Kommissie se Energy4Europe sê lidlande sal meer geld moet gee om die EU se produksieteikens vir hernubare energie te bereik. Ingevolge die REPowerEU Plan, het die 2030-hoofteiken vir hernubares op EU-vlak tot 45-persent gestyg in ‘n poging om Europa se afhanklikheid van Russiese gas voor 2030 te verminder. Tot 80-persent van die EU se energiebehoeftes is van invoere afhanklik. Energy4Europe sê die huidige geo-politieke verskille verhinder beleggings en wek kommer oor voorsieningskettings om vermoë vir hernubare energie in die EU te verhoog.
# Sierskaats: Die Hof van Arbitrasie vir Sport het die Russiese atleet, Kamila Valieva, ‘n verbod van vier jaar vir opkikkergebruik opgelê, wat veroorsaak het dat die Russiese Olimpiese Komitee gestroop is van sy goue medalje in die spanbyeenkoms op Beijing se Winterspele van 2022. Die besluit volg byna twee jaar nadat die kompetisie plaasgevind het. Valieva is skuldig bevind aan die oortreding van opkikker-reëls. Haar skorsingstydperk het op 25 Desember 2021 begin en sal betyds eindig vir die Olimpiese Winterspele van 2026 in Milano en Cortina in Italië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-431-dollar-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-33-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-79-sent per vat.
# Ten slotte: Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, sê die dood van professor Samuel Mokgokong, is ʼn onberekenbare verlies vir die sektor vir naskoolse onderwys en opleiding. Mokgokong was een van die land se mees geëerde akademici en geleerdes. Die woordvoerder van die departement, Veli Mbele, sê hy het ‘n lang en eervolle akademiese loopbaan in die mediese veld gehad, waar hy deel was van baanbrekende chirurgiese spanne:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….