Nuus 15:00
BULLETIN 25 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie oorweeg om mediese dokters te vra om getuies se siekbriewe na te gaan
# Minister Ramokgopa sê wetenskap-gegronde beleid is die sleutel tot Suid-Afrika se energiesekerheid
# En motorsport: Horner verwerp bewerings dat Verstappen die rede was waarom hy Red Bull verlaat het
# Die Madlanga-kommissie is bekommerd oor ‘n siekbrief wat ingedien is namens ‘n kolonel van Misdaadintelligensie wat vandag sou getuig. Die persoon sal nou na verwagting môre verskyn. Getuie F se regspan het verlede week ook ‘n mediese verslag voorgelê, wat veroorsaak het dat sy verskyning tot volgende maand uitgestel is. Woordvoerder Sesi Balyoi waarsku hulle oorweeg dit om mediese praktisyns in te kry om sertifikate na te gaan:
Intussen sê Activists and Citizens Forum die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, se uitdagende gedrag teenoor getuienisleier Adila Hassim voor die kommissie is onaanvaarbaar. Die forum beskuldig hom dat hy skadelike bewyse probeer systap, onbeantwoorde vrae laat en ander die skuld gee. Woordvoerder Dennis Bloem vra Sibiya om sy volle samewerking aan die kommissie te gee om die waarheid te ontbloot en korrupsie en wangedrag binne die Polisiediens bloot te lê:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika se energie-sekerheid moet aangevuur word deur wetenskapsgebaseerde beleid, met die staat wat besluitneming lei. Hy het op die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie-ontwikkelingsinstituut, Sanedi, se derde jaarlikse konferensie in Ekurhuleni beklemtoon dat emosie uit beleidsprosesse verwyder moet word. Die instituut beplan intussen om ‘n sentrum van uitnemendheid vir Energiebeplanning, Modellering en Databestuur te loods. Die sentrum poog om die volgende Geïntegreerde Hulpbronplan te ondersteun en navorsing, datatoegang en breër energie-hervormings te versterk.
Nuus uit die buiteland:
# Die Japanse Ministerie van Verdediging beplan om teen 2031 medium-afstand grond-tot-lug missiele en soldate na Yonaguni-eiland, oos van Taiwan, te ontplooi. Dit vorm deel van ‘n breër verbeterde verdediging wat Japan in sy suidwestelike eilande onderneem na aanleiding van China se groeiende militêre aggressie in die gebied. Die minister van Verdediging, Shinjiro Koizumi, sê die tydsberekening vir die ontplooiing kan verander afhangend hoeveel vordering gemaak word met verbeterings aan geriewe. Die missielstelsel kan tot 100 teikens gelyktydig opspoor en tot 12 gelyktydig aanval.
# Motorsport: Christian Horner sê hy glo nie die renjaer Max Verstappen of sy pa was enigsins die rede vir sy vertrek uit Red Bull verlede jaar nie. Die 52-jarige Horner, wat sedert 2005 deel was van die Formule Een-span, is in Julie as uitvoerende en spanhoof afgedank en deur Laurent Mekies vervang. Horner sê in die jongste Netflix-reeks, Formula 1: Drive to Survive, hy ondervind ‘n ware gevoel van verlies en pyn omdat sy vertrek so skielik was.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-333-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-169-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 70-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….