Nuus 15:00
BULLETIN 19 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Shadrack Sibiya ontken bewerings oor middelman rondom Getuie F
# Die gewese prins Andrew word in hegtenis geneem op sy 66ste verjaarsdag
# En rugby: Antoine Dupont is midde-in ‘n storm oor ‘n salarisplafon-oortreding
# Die geskorste adjunk- nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, het voor die Madlanga-kommissie getuig Getuie F doen nie verslag aan hom nie en het nooit as deurgang vir onwettige fondse opgetree nie. Dit volg nadat getuies hom as die middelman tussen Sibiya en die omstrede sakeman Katiso Molefe bestempel het. Sibiya erken ‘n persoonlike verhouding, maar ontken korrupsie, en beklemtoon die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het ook noue bande met die getuie:
# Die onafhanklike ekonoom Elize Kruger sê Januarie se verlaging in verbruikersprysinflasie is welkome nuus vir sukkelende huishoudings. Statistieke Suid-Afrika berig inflasie het effens gedaal tot 3,5-persent vanaf 3,6-persent in Desember, ‘n terugkeer na die vlak van November. Bestendige voedselinflasie van 4,4-persent en laer brandstofpryse het die daling ondersteun. Kruger beklemtoon inflasie bly binne die Suid-Afrikaanse Reserwebank se teikenband wat die druk op rentekoerse verlig en ruimte laat vir moontlike koersverlagings.
Nuus uit die buiteland:
# Andrew Mountbatten-Windsor – voorheen prins Andrew – van Brittanje is in hegtenis geneem vir vermeende wangedrag in ‘n openbare amp. Dit volg nadat die Thames Valley-polisie gesê het hul ondersoek ‘n klagte dat hy na bewering vertroulike inligting met die Amerikaanse seksoortreder Jeffrey Epstein gedeel het. Andrew, wat vandag 66 word, ontken enige oortreding. Die BBC berig voertuie, vermoedelik polisiemotors, het vroeër vanoggend by die Sandringham-landgoed in Norfolk, Engeland, aangekom.
# Rugby: Frankryk se kaptein, Antoine Dupont, is midde-in ‘n storm oor die oortreding van ‘n salarisplafon. Hy en sy spanmaat van Toulouse, Anthony Jelonch, word genoem in ‘n berig in die sportkoerant L’Equipe oor verdagte betalings wat hulle glo ontvang het om te help voorkom dat die span salarisplafon-regulasies oortree. Die maatskappy 3S-Alyzia het Dupont glo sedert 2017 byna 29-miljoen-rand betaal en Jelonch 3,2-miljoen-rand vir beeldregte en promosies, maar die koerant kon nie enige betekenisvolle bewyse opspoor dat die maatskappy hulle vir daardie doel gebruik het nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-863-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-988-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-70-dollar-58-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het hulde gebring aan die bekende toekomskundige Clem Sunter oor sy visionêre leierskap na sy dood op 81. Die voormalige uitvoerende beampte van Anglo American was mede-ontwikkelaar van die invloedryke ‘High Road vs Low Road‘-scenario tydens apartheid. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, prys Sunter se toewyding aan hervorming en sê hy het die nasionale debat oor die bepalings van verandering gevorm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….