Nuus 15:00
BULLETIN 17 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se werkloosheidsyfer daal tot 31,4-persent
# Die VF Plus kritiseer die Departement van Landbou oor die bek-en-klouseer-krisis
# En die Amerikaanse burgerregte-leier Jesse Jackson sterf op 84
# Statistieke Suid-Afrika sê die werkloosheidsyfer het effens gedaal tot 31,4-persent in die laaste kwartaal van verlede jaar. Die kwartaallikse arbeidsmagopname toon 44-duisend meer mense het werk gekry, met 172-duisend minder wat werkloos is. Die aantal ontmoedigde werksoekers het egter met 233-duisend toegeneem. Dihlolelo Phoshoko van Statistieke SA sê die Wes-Kaap het die meeste nuwe werksgeleenthede aangeteken, en Gauteng toon die grootste verliese:
# Die VF Plus sê ‘n onlangse peiling deur Saai toon boere het vertroue verloor in die Departement van Landbou te midde van die bek-en-klouseer-krisis. Meer as 95-persent sê die reaksie was te stadig, entstowwe is swak bestuur en kenners is stilgemaak. Woordvoerder Wynand Boshoff vra minister John Steenhuisen om aanspreeklikheid te aanvaar en senior amptenare om hul voortgesette diens te regverdig of opsy te staan:
Nuus uit die buiteland:
# Wetgewers in Nieu-Mexiko het ‘n omvattende ondersoek goedgekeur wat die eerste volledige ondersoek sal wees oor wat gebeur het op die plaas Zorro, waar die Amerikaanse seksoortreder Jeffrey Epstein na bewering handel gedryf het in meisies en vroue en hul seksueel aangerand het. ‘n Tweeparty-komitee sal getuienis inwin van slagoffers van die beweerde seksuele misbruik op die plaas naby die hoofstad, Santa Fe. Wetgewers versoek plaaslike inwoners om te getuig. Epstein het in 2019 selfdood gepleeg in ‘n tronk in New York toe hy verhoorafwagtend was.
# Rugby: Die Engelse vleuel Henry Arundell verskyn vandag voor ‘n tugkomitee na sy rooikaart in hul Sesnasies-nederlaag van 31-20 teen Skotland op Murrayfield. Die 23-jarige het in die 37ste minuut ‘n outomatiese 20-minute-rooikaart gekry na sy tweede geelkaart omdat hy Kyle Steyn in die lug geduik het. Afrigter Steve Borthwick se moontlikhede op vleuel is reeds beperk omdat Immanuel Feyi-Waboso beseer is, en nou Arundell se dreigende skorsing. Dit kom op ‘n tydstip dat hulle Saterdag teen Ierland moet probeer om hul veldtog weer op koers te kry.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-826-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-926-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-20-sent per vat.
# En ten slotte: Die burgerregte-aktivis en tweemalige Amerikaanse presidentskandidaat, Jesse Jackson, is oorlede op 84. Jackson, gelei en ondersteun deur Martin Luther King Junior, het die Demokratiese Party hervorm met sy Rainbow PUSH-koalisie en sy onstuitbare voorspraak vir geregtigheid, gelykheid en stemreg. Jackson se Keep hope alive-nalatenskap het geslagte inspireer en burgerregte, LGBTQ-insluiting en veelrassige politieke vooruitgang bevorder. Sy Rainbow PUSH-koalisie het bevestig hy is in die hospitaal opgeneem weens progressiewe verlamming en was omring deur familie toe hy dood is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….