Nuus 15:00
BULLETIN 16 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# E-taxibestuurders eis polisie-ingryping ná ‘n toename in aanvalle op bestuurders
# Namibië se president vra dringende belegging in water en sanitasie
# En rugby: Perth is in September gasheer vir die Springbokke teen die Wallabies
# Die Nasionale E-Taxi-federasie van Suid-Afrika vra dringende veiligheidsmaatreëls ná aanvalle op bestuurders. ‘n Bestuurder is verlede week in Pretoria vermoor en ‘n bestuurder is in Durban aangerand. Woordvoerder Tella Masakale vra ondersoeke na passassiers, paniekknoppies in voertuie en polisie-reaksie-eenhede om vinniger noodreaksie en bestuurdersveiligheid te verseker.
Intussen is die saak teen die beskuldigdes in die moord op die 22-jarige Nigeriese e-taxibestuurder Isaac Satlat in Gauteng tot volgende Maandag uitgestel vir verdere ondersoek. Dikeledi Phela, Gositsiane Machidi en McClaren Mushwana het vlugtig in die Pretoriase Landdroshof verskyn op aanklag van moord en roof. Beeldmateriaal wys hoe Satlat verwurg en in sy motor vasgehou word. Sy liggaam is in Pretoria-Wes gevind. Die beskuldigdes bly in aanhouding, Phela in die Kgosi Mampuru-gevangenis en die mans in Pretoria-Noord se polisie-selle.
# Die EFF-Jeugbevel vra alle universiteite om studente met uitstaande geskiedkundige skuld toe te laat om vir die akademiese jaar te registreer. Meer as 720-duisend studente word deur skuld geraak, wat hulle verhinder om te registreer of te gradueer. Thandeka Mvuyane van die organisasie sê wanneer universiteite studente uitsluit op grond van geskiedkundige skuld, pas hulle nie slegs finansiële regulasies toe nie, maar skep strukturele ongelykheid:
Nuus uit die buiteland:
# Die Namibiese president, Netumbo Nandi-Ndaitwah, het Afrika-lande aangespoor om in volhoubare waterbronne en sanitasie te belê. Sy het tydens die 39ste Afrika-Unie-beraad in Addis Abeba, Ethiopië, beklemtoon dat sanitasie waardigheid, goeie gesondheid en ‘n beter lewensgehalte verseker. Die staatshoof het gewaarsku dat waterskaarste migrasie en konflikte aanwakker. Nandi-Ndaitwah het Namibië se weidingsgeskille as voorbeeld genoem en dringende belegging in water- en sanitasieprogramme aangemoedig:
# Rugby: Perth, bekend vir sy sterk ondersteuning van die Springbokke, sal in September die wêreldkampioen se gasheer wees vir die Mandela-uitdaagplaat teen Australië. Dit is een van ses tuistoetse wat Rugby Australië vir die Wallabies bevestig het. Perth sal ook in Julie ‘n toets teen Italië aanbied in die eerste Nasieskampioenskap. Die Aussies speel eers teen Ierland in Sydney en Frankryk in Brisbane. Japan sal in Augustus die Wallabies in Townsville pak, gevolg deur die Bledisloebeker-wedstryd teen die All Blacks in Sydney.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-602-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-3-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….