Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee besluit om Zuma uit die party te skors
# Die Padverkeersbestuurskorporasie se aanlyn lisensiehernuwingportaal toon uitsonderlike groei
# En, boks: Minister Kodwa wens Jackson Chauke geluk met sy IBO-vlieggewigtitel
# Die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC het besluit om die voormalige president, Jacob Zuma, uit die party te skors. Dis dadelik van krag. Volgens News24 het die NUK eenstemmigheid bereik tydens ‘n laatnag-vergadering. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula sal Zuma na verwagting skriftelik hieroor inlig. Zuma se aankondiging dat hy nie vir die party veldtog sal voer of vir die ANC sal stem nie, volg op die stigting van sy nuwe uMkhonto weSizwe-party. Die NUK het op skorsing besluit eerder as hom uit te skop, omdat laasgenoemde op ‘n uitgerekte dissiplinêre proses sou uitloop. Zuma het 48 uur om op die bewerings teen hom te reageer.
# Die Padverkeerbestuurskorporasie sê die aanlyn voertuiglisensiehernuwings groei vinnig en geniet openbare vertroue. Die diens is in Februarie 2022 ingestel om tyd vir motoriste te bespaar en doeltreffendheid te verbeter. Sedertdien het 1,41-miljoen voertuigeienaars geregistreer en transaksies op die portaal afgehandel. Mense ouer as 60 hoef nie te bespreek nie. Die woordvoerder van die korporasie, Simon Zwane, sê hulle kan sonder vooraf bespreking na enige bestuurslisensie-toetssentrum gaan en sal gehelp word:
# Die Stad Kaapstad prys die florerende bootboubedryf in die stad en sit planne uiteen om die sektor verder te laat ontwikkel. Marinevervaardiging het sedert 2014 meer as 25-miljard-rand se beleggings gelok en byna 12-duisend werksgeleenthede geskep. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die florerende bootboubedryf is die bron van geweldige trots en ekonomiese ontwikkeling vir die stad:
# Oliepryse het gestyg na ‘n hommeltuig-aanval op Amerikaanse magte in Jordanië, wat kommer wek oor toevoeronderbrekings in die Midde-Ooste. Houthi-rebelle het ook Rooisee-aanvalle verskerp en ‘n tenkskip wat deur Trafigura bestuur word, getref. Brent-ruolie het vanoggend tot meer as 83-rand-55 per vat gestyg. Die hommeltuigaanval het ‘n potensiële eskalasie aangedui, wat ‘n uitwerking op plaaslike energievoorsiening gehad het. Trafigura sal veiligheidsrisiko’s beoordeel na die aanval. Russiese verwerkte produkuitvoere kan ook daal weens raffinaderye wat geraak word. Ontleders verwag ‘n mark-verandering in die prys weens die risiko van ontwrigtings.
# Boks: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, het die Suid-Afrikaner Jackson van Tonder Chauke geluk gewens met die Internasionale Boksorganisasie se vlieggewig-titel. Hy het Quaise Khademi Saterdagaand in die York-saal in Londen verslaan. Khademi is in Kaboel, Afghanistan, gebore maar woon in Engeland. Die ministerie se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê Kodwa wil hê Suid-Afrikaanse boks moet herleef en weer die hoogtes van voorheen bereik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-111-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-25-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….