Nuus 15:00
BULLETIN 11 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Forensiese ondersoeker lig die misbruik van die polisie-fonds uit
# Thoko Didiza bevestig die Parlement se gereedheid voor die staatsrede
# En krieket: Suid-Afrika klop Afganistan in die tweede super-boulbeurt in Ahmedabad
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan het voor die parlementêre ad hoc-komitee getuig die polisie se geheime diensrekening om informante te betaal word wanbestuur. Hy bevraagteken die rol van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkwanazi, in die hantering van informante sonder veiligheidsklaring. O’Sullivan het die hewige interne gevegte oor die fonds uitgelig en merk op dit het gegroei van 98-miljoen-rand in 2012–2013 tot 600-miljoen-rand, ‘n toename van 500-persent, met min aanspreeklikheid:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê die Parlement is ten volle voorbereid vir môreaand se staatsrede. Sy beklemtoon logistieke reëlings, sekerheidsprotokolle en koördinering met staatsdepartemente is ingestel om ‘n gladde en ordelike verloop te verseker. Didiza verduidelik hoe belangrik vrugbare debatte en die nakoming van parlementêre reëls is. Sy vra parlementslede om daadwerklik betrokke te raak en pogings te ondersteun wat bestuur en openbare dienslewering sal versterk:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, het bevestig die diensverskaffer wat aangestel is om die SABC se befondsingsmodel te hersien, se werk is voltooi. Dit sluit verlede week se raadpleging met die parlementêre portefeuljekomitee oor Kommunikasie in. Malatsi het teenoor Newzroom Afrika bevestig die finale verslag sit verskeie befondsingskeuses uiteen en raadpleging word binnekort verwag, insluitend met die minister van Finansies, Enoch Godongwana:
Nuus uit die buiteland:
# Die aantal mense wat gesterf het nadat ‘n aanvaller losgebrand het op ‘n hoërskool in Wes-Kanada, het tot tien gestyg, insluitend die vermeende aanvaller. Die Koninklike Kanadese Berede Polisie sê ses mense is doodgeskiet in ‘n hoërskool in Tumbler Ridge, Brits-Colombië, en twee in ‘n nabygeleë woning. Nog ‘n persoon het op pad na die hospitaal gesterf en die aanvaller het volgens berigte selfdood gepleeg. Dit word beskryf as een van die land se dodelikste skietvoorvalle in die onlangse geskiedenis.
# Krieket: Suid-Afrika het Afganistan met vier lopies geklop in ‘n dramatiese T20-Wêreldbeker-groepwedstryd in Ahmedabad, Indië, wat eers in die tweede super-boulbeurt beslis is. Albei spanne het 187 aangeteken, en 17 in die eerste super-boulbeurt. Die Proteas het 187 vir ses gehaal na vyftigtalle deur Ryan Rickelton en Quinton de Kock, en Afganistan daarna uitgeboul vir 187. David Miller en Tristan Stubbs het 23 lopies gemoker in die tweede bykomende boulbeurt, en Keshav Maharaj het Afganistan toe beperk tot 19.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-84-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-987-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-106-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….