Nuus 15:00
BULLETIN 10 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul O’Sullivan verwerp bewerings oor sy optrede as ‘n buitelandse agent
# Die Wes-Kaap versterk maatreëls teen bek-en-klouseer
# En motorsport: McLaren se hoof sê Piastri is op dieselfde loopbaantrajek as Norris
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan verwerp bewerings dat hy as ‘n agent opgetree het vir buitelandse intelligensie-agentskappe. Hy getuig voor die Parlement se ad hoc-komitee wat beweerde politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek. O’Sullivan verduidelik die besit van veelvuldige paspoorte is bloot vir reisgerief. Hy beklemtoon hy het geen buitelandse bedrywighede as agent uitgevoer in die 40-jaar wat hy in Suid-Afrika woon nie:
# Die Minerale Raad van Suid-Afrika het onthul die mynbousektor verkeer steeds onder druk, met mynbou se BBP-bydrae wat tot 439,2-miljard-rand gedaal het. Die uitvoerende hoof, Mzila Mthenjane, het tydens die Mynbou-indaba in Kaapstad gesê hul Facts and Figures 2025 Pocketbook toon hoër verbruiksgoedere-pryse en rekord chroom- en mangaanuitvoere het wel inkomste verhoog, maar die mynbousektor is onder druk weens ‘n daling in produksie. Hy sê ook stygende elektrisiteitskoste, swak spoorweghawe-prestasie en regulatoriese vertragings beperk steeds mededingendheid.
# Die Wes-Kaapse regering het vee-inspeksies verskerp om te help om die verspreiding van bek-en-klouseer te bekamp. Tydens gesamentlike operasies met die provinsiale Departement van Landbou is vragmotors wat diere vervoer, voorgekeer en nagegaan vir permitte, vragnakoming en padwaardigheid. Die hoofdirekteur van Verkeersbestuur, Maxine Bezuidenhout, sê meer as een-duisend-600 voertuie is nagegaan, en boetes van meer as 347-duisend-rand is uitgereik:
# Forum for South Africa veroordeel die voortslepende vertragings met die Senzo Meyiwa-moordverhoor wat tans in die Hooggeregshof in Pretoria plaasvind. Die Bafana Bafana-kaptein is op 26 Oktober 2014 doodgeskiet in die huis van sy vriendin, die sangeres Kelly Khumalo, in Vosloorus, Gauteng. Die vyf mans wat vir die moord teregstaan, pleit almal onskuldig. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die vertragings raak die Meyiwa-familie:
# Motorsport: McLaren se uitvoerende hoof, Zak Brown, glo sy Australiese jaer, Oscar Piastri, is op ‘n soortgelyke Formule Een-loopbaantrajek as sy Britse spanmaat Lando Norris, wat verlede seisoen die wêreldkampioenskap verower het. Hy sê Piastri het baie minder ervaring as Norris, maar hulle ontwikkeling oor die jare is soortgelyk. Albei jaers het verlede jaar sewe wedrenne gewen. Brown sê albei is gereed vir die nuwe seisoen wat vroeg volgende maand in Melbourne in Piastri se vaderland begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-886-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-46-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….