Nuus 15:00
BULLETIN 4 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA bedank John Steenhuisen vir sy leierskap
# Die Hooggeregshof verwerp Jacob Zuma en Thales se appèlaansoek
# En rugby: Eddie Jones sê die skedule vir 2027 se Wêreldbeker is billik vir alle spanne
# Die DA het John Steenhuisen vereer vir sy ses-jaar as federale leier en prys die rol wat hy gespeel het om die party die eerste keer aan die nasionale regering te laat deelneem.. Hy het vandag aangekondig dat hy in April uittree. Woordvoerder Jan de Villiers, sê Steenhuisen het bestendigheid versterk, verkiesingsteun verbeter en gehelp om die regering van nasionale eenheid te vorm. Hy sê Steenhuisen sal nou fokus op sy rol as minister van Landbou en boere en voedselsekerheid sal baatvind by sy voltydse aandag.
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, het oudpresident Jacob Zuma en sy medebeskuldigde, Thales, se aansoek verwerp om die uitspraak teen hulle kwytskelding om te keer. Regter Nkosinathi Chili het die oorspronklike beslissing gehandhaaf en bevestig die regsproses sal voortduur. Zuma en die Franse lugvaart-onderneming wou die vorige uitspraak laat tersyde stel. Chili sê hul betoë was nie voldoende nie:
# Gesondheidsowerhede in Limpopo waarsku swaar reën en oorstromings het die kanse op malaria verhoog, want dit skep ideale toestande vir muskiete om te broei en binnenshuise bespuiting te ontwrig. Slegs 48-persent van huishoudings word tans gedek. Woordvoerder Neil Shikwambana sê sedert April verlede jaar is 838 malariagevalle en 12 sterftes aangeteken. Hy vra gemeenskappe om spuitspanne toegang te gee, vroeë simptome raak te sien en onmiddellik behandeling te ontvang:
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het konsepregulasies vir openbare kommentaar gepubliseer ingevolge die Wet op Dagga-gebruik vir Privaat Doeleindes. Die Konstitusionele Hof het in 2018 beslis dat die kriminalisering van volwassenes se gebruik of besit van dagga vir privaat doeleindes nie redelik en regverdigbaar is in ‘n oop en demokratiese samelewing nie. Die departement se woordvoerder, Terrence Manase, sê kinders se gebruik van dagga bly verbode:
# Rugby: Japan se hoofafrigter, Eddie Jones, het die skedule vir 2027 se Wêreldbekertoernooi verwelkom en sê dit gee die kleiner spanne ‘n billike kans om die groter spanne te ontwrig. Die Brave Blossoms begin hul veldtog teen Samoa voor hulle Frankryk en dan Amerika pak in die groepfase van die skouspel in Australië. Jones sê hulle het ses dae tussen elke wedstryd, wat ‘n billike voorbereidingstydperk is. Hy voeg by daar is nie perke waar hulle wil eindig nie, veral na hulle in 2019 die kwarteindronde gehaal het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-920-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-23-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….