Nuus 15:00
BULLETIN 3 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommissaris Baloyi verwerp ‘n getuie se bewerings dat hy homself kan benadeel
# Reservoirvlakke daal steeds in Tshwane
# En krieket: Bavuma glo De Kock hou die sleutel tot die Proteas se sukses in die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die Madlanga-kommissie se kommissaris, Sesi Baloyi, sê daar is geen aanduiding ‘n getuie sal homself benadeel as sy WhatsApp-boodskappe aan die kommissie bekend gemaak word nie. Die getuie, verteenwoordig deur Hartley Ngoato, het hom tot die Hooggeregshof gewend om te verhoed dat hy verskyn. Baloyi beklemtoon die Kommissiewet beskerm getuienis, behalwe in die geval van meineed. Sy sê kommer oor onbekende vrae regverdig nie die weiering om te getuig nie:
# Die Stad Tshwane sê sy watervoorsieningsnetwerk bly onder geweldige druk weens Rand Water se uiters lae toevoerdruk. Dit volg op ‘n onlangse kragonderbreking by Rand Water se Palmiet-stelsel. In ‘n poging om kritieke voorraad te beskerm, het die metro water van ander reservoirs herlei om die vloei aan te help, maar dit was nie doeltreffend nie. Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê die evaluering van die stelsel toon dat die situasie verder kan versleg:
# Mpumalanga se Gesondheidsdepartement berig malariagevalle het toegeneem, met meer as 300 bevestigde gevalle verlede maand vergeleke met slegs 69 in Januarie verlede jaar. Die direkteur vir Oordraagbare Siektes, Mandla Zwane, verbind die toename met onlangse vloede, veral in die Ehlanzeni-gebied sowel as in Nkomazi, Mbombela en Bosbokrand. Woordvoerder Dumisani Malamule sê die departement sal ‘n bewusmakingsveldtog van stapel stuur en vra inwoners om beskermende klere te dra en toetse te laat doen indien hul simptome soos koors, hoofpyn of braking ontwikkel.
# Die Wes-Kaapse regering vra inwoners en belanghebbendes om die provinsie se vleilande te beskerm namate klimaatsdruk toeneem. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het ter viering van Wêreld-vleilanddag gesê gesonde vleilande is noodsaaklik vir watersekerheid, vloedbeheer, koolstofberging en bioverskeidenheid. Hy waarsku dat ontwikkeling, besoedeling, indringerspesies en klimaatsverandering steeds hierdie ekostelsels bedreig:
# Krieket: Kaptain Temba Bavuma glo met Quinton de Kock in topvorm gaan die aanvangskolwer die sleutelspeler wees in die Proteas se veldtog op die T20-Wêreldbekertoernooi in Indië en Sri Lanka. Die 33-jarige De Kock, wat die sesde keer aan die toernooi sal deelneem, het verlede week weer opnuut gewys hy is honger vir sukses met sy uitstekende loopbaan-beste vertoning van 115 lopies van 49 balle in die tweede T20 teen die Wes-Indiese Eilande in Centurion. Die Proteas speel Maandag hul eerste groepwedstryd teen Kanada.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-995-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-901-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….