Nuus 15:00
BULLETIN 29 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa stig ‘n nuwe eenheid om die Madlanga-kommissie se bewerings te ondersoek
# SALGA waarsku klimaatsrampe word dodeliker
# En tennis: Sabalenka is terug in die eindstryd van die Australiese Ope
# President Cyril Ramaphosa het die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, en die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, opdrag gegee om ‘n nuwe spesiale ondersoektaakspan te stig om die Madlanga-kommissie se bewerings te ondersoek. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa het die tussentydse verslag bestudeer en verwelkom verwysings van sake vir onmiddellike strafregtelike ondersoek en dringende besluite rakende vervolging:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering sê die dood van Ekurhuleni se burgemeesterskomiteelid vir Paaie en Vervoerbeplanning, Andile Mngwevu, in Mosambiek, is ‘n tragiese herinnering aan die groeiende uitwerking van klimaatsverwante rampe. Mngwevu en sy metgeselle het vermis geraak nadat vloedwater verlede week hul voertuig meegesleur het. Motalatale Modiba van die vereniging het sy meegevoel betuig met gesinne en gemeenskappe wat deur die vloede geraak is:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit sê hoewel verskeie dele van die land uitbrekings van bek-en-klouseer ondervind, is geen bevestigde gevalle in die Suid-Kaap aangemeld nie. Woordvoerder Herman Pieters sê bees- en melkboere werk pro-aktief om hul kuddes te beskerm. Hy sê boere is tans besig om ‘n reeks biosekerheidsmaatreëls in werking te stel om die gevaar van verspreiding te verminder:
# Tennis: Die tweemalige vrouekampioen, Aryna Sabalenka, is terug in die eindstryd van die Australiese Ope. Die wêreld-nommer-een van Belarus het het maklik in skoon stelle afgereken met die 12de gekeurde Oekraïner, Elina Svitolina. Sabalenka het die toernooi in 2023 en ’24 gewen voor sy in verlede jaar se eindstryd teen die Amerikaner Madison Keys verloor het. Sy speel Saterdag vir die titel teen die vyfde-gekeurde Elena Rybakina van Kazakstan, wat die sesde-gekeurde Amerikaner Jessica Pegula in die ander halfeindstryd verslaan het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-76-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-683-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-510-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-52-sent per vat.
# En ten slotte: Eskom het ‘n praktiese mylpaal bereik om Suid-Afrika se Billike Energieoordrag te verbind met nuwe geleenthede in klimaat-slim voedselproduksie en vaardigheidsontwikkeling. Dit is deur die bekendstelling van die Grootvlei Klimaatslim-tuinbousentrum by die Grootvlei-kragstasie in Mpumalanga. Die projek is ʼn samewerkingsooreenkoms tussen die provinsiale regering en die Nederlandse regering. Eskom sê die sentrum fokus op praktiese opleiding en vaardigheids- en waardeketting-ontwikkeling. Dit fokus tans op klimaat-slim tuinbou eerder as grootskaalse handelsproduksie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….