Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma is nie genooi na die ANC se NUK-byeenkoms nie
# ‘n Gevangenes-organisasie bepleit ‘n regswysiging vir werkstoegang na gevangenisstraf
# En, rugby: Bloemfontein bied die geskiedkundige eerste toets tussen die Bokke en Portugal aan
# Die Sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het bevestig die voormalige president, Jacob Zuma, sal nie die driedaagse vergadering van die Nasionale Uitvoerende Komitee in Boksburg, Gauteng, bywoon nie. Mbalula het op ‘n nuuskonferensie die sakelys van die vergadering bespreek en sê die NUK sal die volgende stappe bespreek na aanleiding van Zuma se betrokkenheid by die Umkhonto weSizwe-party. Mbalula het bygevoeg Zuma is sedert sy opsluiting nog nie weer na vergaderings van die NUK genooi nie:
# Die Suid-Afrikaanse Gevangenes-organisasie vir Menseregte dring aan op ‘n regswysiging om werksgeleenthede te vergemaklik vir gevangenes wat hul vonnisse voltooi het en vrygelaat is. Al het gevangenes goed presteer in die matriek-eindeksamen, beweer SAPOHR die Nasionale Senior Sertifikaat wat verdien word, is onbruikbaar met vrylating. Die organisasie kritiseer die huidige wagtydperk van tien-jaar vir die verwydering van misdaadrekords, wat mense verhinder om hul kwalifikasies wat in die tronk verwerf is te gebruik om hul lewens te verbeter.
# Die DA in Tshwane het die raad se goedkeuring vir aanvaarding van die verslag oor die Rooiwal- en Pretoria-Wes-kragstasies verwelkom. Dit beteken die metro kan nou voortgaan om die kragstasies vir 40 jaar aan onafhanklike kragverskaffers te verhuur. Kwena Moloto van die DA sê dis ‘n bepalende stap om hierdie noodsaaklike geriewe aan privaat kragverskaffers te verhuur in voortgesette pogings om Tshwane se afhanklikheid van Eskom te verminder:
# Zimbabwe se opposisieleier, Nelson Chamisa, het uit sy party, die Citizens Coalition for Change, bedank. Chamisa voer aan die regerende ZANU-PF-party besoedel en kaap sy party. Hy beskuldig die regerende party dat hulle staatsinstellings gebruik om die CCC te ondermyn. Chamisa sal na verwagting ‘n nuwe party stig. Sy kritici sê intussen sy swak leierskap het gelei tot diep skeure in die opposisie, wat president Emmerson Mnangagwa gehelp het om aan bewind te bly.
# Rugby: Bloemfontein sal in Julie die heel eerste toets tussen Suid-Afrika en Portugal aanbied, Die Springbokke sal ook tuiswedstryde speel teen Ierland, die All Blacks en Argentinië. Die wêreldkampioen speel op ses Julie teen Ierland in Pretoria en ‘n week later in Durban. Die toets teen Portugal vind op 20 Julie plaas, gevolg deur wedstryde teen Nieu-Seeland op Ellispark op 31 Augustus en Kaapstad op 7 September. Die Bokke kom op 28 September in Mbombela teen Los Pumas te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-928-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-23-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….