Nuus 15:00
BULLETIN 27 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Senona ontken kartel-infiltrasie in die KwaZulu-Natalse Direktoraat vir Voorkeur-misdaadondersoeke
# Die Spoorwegbedryf versnel sy veldtog deur vaardigheidsontwikkeling
# En rugby: Erasmus is onseker of Tony Brown ná 2027 nog by die Bokke sal aanbly
# Die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, verwerp bewerings oor kartel-infiltrasie binne die provinsiale Direktoraat vir Voorkeur-misdaadondersoeke. Hy het voor die Madlanga-kommissie getuig dat ondersoeke staatmaak op streng geheimhouding en vertroue. Senona sê hy dra geen kennis van enige “Groot Vyf”-kartel wat in die eenheid werk nie, en voeg by geen intelligensieverslae het gedui op infiltrasie nie. Hy sê sekere korrupsiesake word nog ondersoek:
# Die DA in KwaZulu-Natal het ‘n dringende vergadering van alle partye in die regering van provinsiale eenheid versoek na aanleiding van die Nasionale Vryheidsparty se besluit om uit die ooreenkoms te tree. Die party sê geskille moet opgelos word om die koalisie met die NVP, die Inkatha Vryheidsparty en die ANC te beskerm. Dean MacPherson van die DA sê die koalisie-regering bly die beste platform vir groei en werkgeleenthede. Al vier partye sal volgende naweek in Durban vergader om ‘n pad vorentoe te bepaal.
# Die Afrika-spoorbedryf-vereniging het sy streeksprogram versnel met die klem op vaardigheidsontwikkeling. Uitvoerende hoof Mesela Nhlapo sê die program is afhanklik van mense, insluitend opgeleide tegnici, ambagslui en ingenieurs, en waarsku slegs verkryging kan nie spoorweguitdagings oplos nie. Nhlapo sê dit is noodsaaklik om ‘n vaardigheidspyplyn te bou vir veiligheid, vlootgereedheid en bedrywighede, terwyl dit ook jeugwerkloosheid verminder. Sy beklemtoon die program is in ooreenstemming met die Nasionale Vaardigheidsontwikkelingsplan 2030 om spoorwegherstel en langtermyn ekonomiese groei te ondersteun.
# Die Handveskomitee van die Eindgebruiker-intekenaar verwelkom die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid se verbeterde oordragregulasies wat op 23 Januarie volgende jaar in werking tree. Die voorsitter, Catherine Mushi, sê die bygewerkte reëls sal verseker ongebruikte data-, stem- en SMS-pakkette word outomaties oorgedra, sonder bykomende koste. Buite-pakketkoste vereis klante se toestemming, wat help om ‘n rekeningskok te beperk. Mushi het aan Newzroom Afrika bevestig selfoon-netwerke moet hul stelsels binne 12-maande bywerk:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus erken hy is onseker of aanvalsafrigter Tony Brown by die span sal bly na volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië. Daar is sprake dat Brown na sy geboorteland, Nieu-Seeland, kan terugkeer na Scott Robertson se vertrek as All Black-afrigter verlede maand. Erasmus sê hy het seker gemaak dat al sy afrigters vir vier jaar by die Bokke sal bly nadat Jacques Nienaber by Leinster aangesluit het. Hy sê Brown is steeds verbind tot die span.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-747-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-86-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….