Nuus 15:00
BULLETIN 16 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motshekga ontken bewerings dat die president se opdragte oor die militêre oefeninge geïgnoreer is
# Aanhoudende swaar reën verhoog die gevaar van oorstromings, vinnig-vloeiende riviere en padsluitings in Limpopo en Mpumalanga
# En rugby: Die Haaie versterk hulle span met twee oorsese Suid-Afrikaanse spelers
# Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, het bewerings ontken dat president Cyril Ramaphosa se opdragte oor die uitvoering van die Will for Peace militêre oefeninge geïgnoreer is. Die departement se woordvoerder, Siphiwe Dlamini, sê die opdrag, insluitend Iran se deelname, is duidelik oorgedra en aanvaar. Dlamini sê ‘n raad van ondersoek is ingestel om die bewerings te ondersoek:
# Aanhoudende swaar reën in Limpopo en Mpumalanga verhoog die gevaar van wydverspreide oorstromings, vinnig vloeiende riviere en padsluitings. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n rooi vlak tien-waarskuwing uitgereik vir gebiede soos Maruleng, Ba-Phalaborwa, Nkomazi, Mbombela, Bushbuckridge, Giyani, Tzaneen, Letaba en Collins Chabane. Inwoners word versoek om oorstroomde paaie te vermy en na hoër gebiede te verskuif. Die weervoorspeller, Lehlohonolo Thobela, sê weerstoestande sal na verwagting vanaf Maandag geleidelik verbeter.
# Die DA eis ‘n onafhanklike forensiese ondersoek na die toekenning van die vierde Lotto-lisensie. Toby Chance van die party bevraagteken Sizekhaya Holdings se bodproses, insluitend die rol van SocialPro en sy beweerde onreëlmatige verwydering. Hy wys op potensiële politieke bande met adjunkpresident Paul Mashatile en moontlike oortredings van lisensievoorwaardes. Chance vra die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, om deursigtigheid en verantwoordbaarheid in die lisensie-toekenningsproses te verseker:
# Rugby: Die Haaie het twee spelers bygekry om hul voorspelerspak te versterk. Die slot Stephan Lewies het van 2012 tot 2018 vir hulle gespeel voordat hy na Harlequins in Engeland verhuis het. Hy het die span tot die Premierliga-titel aangevoer in die 2020/21-seisoen. Die vaskopstut Nemo Roelofse het homself in die Franse Top 14-liga gevestig by klubs soos Stade Français en Perpignan. Die twee se verkryging is deel van die Haaie se strategie om hul voorspelerpak met ervare spelers te versterk vir die komende seisoen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-318-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-609-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-5-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nuwe CNN-peiling het bevind ‘n driekwart van Amerikaners wil nie hê Amerika moet beheer neem oor Groenland nie. President Donald Trump het verklaar enigiets minder as beheer oor die Deense gebied is onaanvaarbaar. Hy sê dis noodsaaklik vir sy land se nasionale veiligheid. Vyf-en-sewentig-persent van deelnemers is gekant teen die idee, insluitend 52-persent wat dit ten sterkste verwerp. Byna ses uit tien Amerikaners is ook bekommerd Trump het te ver gegaan in sy pogings om Amerika se mag in ander lande uit te brei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….