Nuus 15:00
BULLETIN 15 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oudminister Dion George bedank uit die DA
# Die Ministerie van Vervoer begin met wysigings aan die Verkeerswet om wette oor dronkbestuur te verskerp
# En tennis: Djokovic en die verdedigende kampioen Sinner is in dieselfde loting vir die Australiese Ope
# Die voormalige minister van Omgewingsake, Bosbou en Visserye, Dion George, het ná 28-jaar uit die DA bedank. Dit volg nadat DA-leier John Steenhuisen in November versoek het dat hy as minister verwyder word. George het ook bedank as voorsitter van die DA se Federale Finansiële Komitee en as parlementslid. Hy beskuldig Steenhuisen dat hy die party in gedrang bring, sy parlementêre stem onderdruk en hom by die ANC skaar:
# Die ministerie van Vervoer gaan begin met die wysiging van Artikel 65 van die Nasionale Padverkeerswet om strenger strawwe vir dronkbestuur in te stel. Minister Barbara Creecy het tydens die aanbieding van die padveiligheidsverslag gesê padsterftes bly ‘n nasionale skande, ondanks ‘n daling van vyf-persent in sterftes. Sy beklemtoon spoed en dronkbestuur is die hoofoorsake van ongelukke en sê wette wat drink en bestuur toelaat moet geskrap word:
# Die Suid-Afrikaanse regering bepleit dialoog en selfbeheersing in Iran, terwyl hy die verwikkelinge in die land noukeurig en met kommer dophou. Wydverspreide teen-regerings-betogings het losgebars weens ekonomiese druk, wat streekspanning en geopolitieke onbestendigheid vererger het. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die onrus het gelei tot oproepe om die regte van die Iranse volk te beskerm:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, en die tienmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, is in dieselfde loting van die Australiese Ope, wat die moontlikheid van ‘n opwindende halfeindstryd skep. Sinner begin sy veldtog teen die Fransman Hugo Gaston, en Djokovic teen die Spanjaard Pedro Martinez. Die topgekeurde Carlos Alcaraz, wat mik na ‘n loopbaan-Grand Slam, sal in die openingsronde met die plaaslike speler Adam Walton kragte meet. Die tuisgunsteling, Alex de Minaur, het ‘n moeilike eerste ronde-loting teen die Italianer Matteo Berrettini.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-791-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-618-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Die gesin van die 18-jarige Rikus Kylander, wat verlede maand vermis geraak het terwyl hy langs die Mosambiekse kus gesnorkel het, het gemengde gevoelens nadat hy vyf onderskeidings behaal het in sy matriek-eindeksamen. Die leerder van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp, Gauteng, het by Ponta do Oura in die suide van Mosambiek verdwyn tydens ‘n vakansie saam met vriende. ‘n Uitgebreide soektog op die land, in die see en die lug het nog niks opgelewer nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….