Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD Party sê Tshwane se onderburgemeester moet tydelik van haar magte gestroop word
# ‘n Styging word aangemeld in grypvoorvalle in Kaapstad
# En tennis: Agtereenvolgende eindstryde vir Sabalenka in Melbourne
# Die GOOD Party in Tshwane doen ‘n beroep op die metro se koalisieregering om die nuutverkose onderburgemeester, Nasiphi Moya, van haar magte te stroop totdat haar naam skoon is ná ‘n voortgesette bedrogondersoek. Moya het na bewering in 2020 ‘n reistoelaag van tien-duisend-rand vir haarself gehou nadat ‘n geskeduleerde werksreis na Saoedi-Arabië gekanselleer is. Janke Tolmay van GOOD sê die onderburgemeester het in daardie tyd gedien as die burgemeester se personeelhoof:
# Die Stad Kaapstad sê kruisings in Jakes Gerwel-rylaan is steeds brandpunte vir grypvoorvalle. Daar is gedurende November en Desember 36 voorvalle aangemeld. Die Metropolisie se Strategiese Waarnemingseenheid het ook ‘n styging aangeteken waar moontlike diewe geleenthede verken. Die burgemeesterskomiteelid vr Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die statistieke toon ʼn voortgesette noodsaaklikheid om uiters waaksaam te wees en kosbaarhede weg te sluit, maar sommige motoriste gee nog nie gehoor daaraan nie:
# Die Verenigde Nasies sê kanondoppe het ‘n groot kompleks getref waar ontwortelde Palestyne in Khan Younis, Gaza, geskuil het. Israel ontken sy magte was aanspreeklik en sê Hamas het moontlik die aanval uitgevoer. Die beroepsopleidingsentrum wat getref is, het 30-duisend ontworteldes gehuisves. Minstens nege mense is dood en 75 gewond. Die adjunkwoordvoerder van die Amerikaanse Departement Buitelandse Sake, Vedant Patel, sê Amerika is geskok oor die aanval. Hy voeg by burgerlikes moet beskerm en VN-geriewe gerespekteer word.
# Tennis: Aryna Sabalenka van Belarus het haar belofte nagekom om wraak te neem op Coco Gauff nadat sy verlede jaar teen haar verloor het in die eindstryd van die Amerikaanse Ope. Die tweede gekeurde en verdedigende kampioen het die vierde gekeurde Amerikaner in skoon stelle verslaan in die halfeindstryd van die Australiese Ope. Sy speel Sondag in die eindstryd teen die wenner van die ander halfeindstryd, Dayana Yastremska van Oekraïne of Qinwen Zheng van China. Sabalanka sê dit is wonderlik om weer vir die titel te speel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-206-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-18-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-3-sent per vat.
# Ten slotte: Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, het in die Sobantu-gemeenskapsaal in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, ʼn multimiljoen-rand skenking van gesondheidstoerusting van die Duitse Ontwikkelingsbank ontvang. Die skenking van 500-miljoen-rand sluit in mobiele gesondheidsklinieke, gespesialiseerde entstof-yskaste, entstofdraers, temperatuur-moniteringstoestelle en inligtingstegnologie-toerusting. Die skenking is daarop gemik om die regering se pogings te ondersteun om die openbare gesondheidstelsel te verstrek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….