Nuus 15:00
BULLETIN 14 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen vra ‘n nasionale rampverklaring te midde van die bek-en-klouseer-uitbreking
# Die goudprys skiet die hoogte in
# En motorsport: Doohan beëindig sy kontrak met Alpine
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, gaan aan die kabinet die noodsaaklikheid voorlê om die bek-en-klouseer-uitbreking tot ‘n nasionale ramp te verklaar. Hy het ‘n massa-inentingsveldtog aangekondig en verwag binne twee weke ‘n miljoen entstofdosisse, hangende regulatoriese goedkeuring vir die invoer van ongeregistreerde entstowwe. Steenhuisend het op ‘n nuuskonferensie beklemtoon so ‘n verklaring sal wetstoepassing mobiliseer om dierebeweging te beperk ten einde die verspreiding van die siekte te stop:
Nog landbounuus: TLU SA sê verdere verhogings in Suid-Afrika se minimumloon kan werkverliese, meganisering en armoede vererger, veral in die landbou- en kleinsake-sektor. Woordvoerder Bennie van Zyl sê stygende arbeidskoste te midde van swak ekonomiese groei, hoë werkloosheid en stygende insetkoste bedreig volhoubare indiensneming. Hy vra loonbepalings wat markkragte, sektorverskille en alternatiewe staatsondersteuning in ag neem om werksgeleenthede en ekonomiese groei te beskerm:
# Die voormalige waarnemende nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, het die Parlement se ad hoc-komitee oor beweerde polisie-korrupsie gevra om hom genoeg tyd te gee om volledig aandag te skenk aan die kwessies wat in sy beëdigde verklaring genoem is. Hy sê die aanjaag van die proses sal geregtigheid ondermyn. Phahlane is ook bekommerd omdat hy nooit voor die Zondo-kommissie kon getuig nie:
# Die uiters vername Suid-Afrikaanse uitvoerproduk, goud, het vanoggend tot ‘n rekordhoogtepunt van meer as vier-duisend-600-dollar per fynons gestyg. Dit het die rand se waarde in vroeë handel versterk, met wêreldmarkte wat steeds belangrike Amerikaanse inflasie-aanwysers beoordeel, aangesien dit leidrade kan bied oor die Federale Reserweraad se planne vir rentekoerse. Die navorsingsdirekteur van BullionVault, Adrian Ash, sê die goudprys het sedert Nuwejaarsdag met meer as 68-persent gestyg, wat die hoogste styging sedert 1979 is. Beleggers beskou goud ook as ‘n veilige hawe in tye van geopolitieke spanning.
# Motorsport: Die Australiese renjaer Jack Doohan se kontrak met Alpine se Formule Een-span is beëindig. Hy het verlede jaar sy bestuurdersplek aan die Argentyn Franco Colapinto afgestaan ná slegs ses wedrenne, maar het as reserwe-bestuurder aangebly. Die 22-jarige en die span het nou ‘n onderlinge ooreenkoms bereik om sy dienste te beëindig. Alpine het besluit om met Colapinto te volstaan al het hy verlede jaar geen punte aangeteken in 18 wedrenne nie. Hy sal weer saam met die Fransman Pierre Gasly jaag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-759-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-626-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….