Nuus 15:00
BULLETIN 12 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA ontbloot ministers se reisuitgawes van 450-miljoen-rand in die eerste 18 maande
# Minister Mantashe beweer sy opmerkings oor ‘lui jeug’ is verkeerd aangehaal
# En krieket: Die groepfase van die SA20 steek die halfpadmerk verby
# ActionSA sê ministers in die regering van nasionale eenheid het in die eerste 18 maande van hul termyn byna 450-miljoen-rand aan reis- en verblyfkoste bestee. Die party sê hierdie bedrag sal tot 500-miljoen-rand styg namate uitstaande parlementêre antwoorde gefinaliseer word. Alan Beesley van ActionSA sê die syfers is verkry uit die party se prestasiestelsel vir die regering van nasionale eenheid en gegrond op antwoorde op parlementêre vrae. Hy sê dit skets ‘n verdoemende prentjie van uitvoerende magsmisbruik:
# Die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, sê hy is verkeerd aangehaal ná kritiek oor opmerkings wat beskou word as werklose jeug wat as lui beskryf is. Sy opmerkings om Suid-Afrikaners aan te spoor om meer pro-aktief te wees in hul soeke na werk, het kritiek ontlok van opposisiepartye, vakbonde en van binne die ANC. Kritici sê die opmerkings ignoreer ingewortelde ekonomiese hindernisse. Mantashe hou vol hy het werksoekers aangemoedig om aan te hou probeer omdat werkloosheid ‘n sleutelkwessie bly voor vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing.
# Die Vryheidsfront Plus sê die skerp styging in bek-en-klouseer-gevalle in Gauteng en omliggende provinsies het ʼn krisisvlak bereik en beslissende optrede is nodig. Die land beleef een van die ergste uitbrekings in dekades. Dit het in April verlede jaar in KwaZulu-Natal begin en sedertdien landwyd versprei. Jaco Mulder van die VF Plus sê die regering het nie die siekte doeltreffend bekamp nie:
# Krieket: Die SA20 se groepfase het die halfpadmerk verbygesteek, met al die spanne wat nou minstens ses wedstryde gespeel het. Die tweemalige kampioen, Sunrisers Eastern Cape, is tans boaan die punteleer met 19 punte na drie oorwinnings in sewe wedstryde. Hulle word gevolg deur Joburg Super Kings, Pretoria Capitals, Paarl Royals en Durban’s Super Giants. Die verdedigende kampioen, MI Cape Town, is heel onder met slegs tien punte. Pretoria Capitals en MI Cape Town gaan vandag sake uitspook in Centurion.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-481-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-588-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-53-sent per vat.
# En ten slotte: Meta het ongeveer 550-duisend rekeninge geblok aan die begin van Australië se baanbreker sosialemedia-verbod op kinders. Australiërs onder die ouderdom van 16 word verbied om sosialemedia-rekeninge, insluitend Facebook en Instagram, te hê sedert die nuwe wet verlede maand in werking getree het. Voorstanders en die regering regverdig die verbod – wat wêreldwyd noukeurig dopgehou word – as noodsaaklik om kinders teen skadelike inhoud en algoritmes te beskerm. Die BBC berig die Britse Konserwatiewe Party het beloof om dieselfde te doen indien hul die volgende verkiesing wen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….