Nuus 15:00
BULLETIN 7 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# NERSA vra die publiek se insette oor die voorgestelde 76-miljard-rand tariefverhoging vir Eskom
# SANParke waarsku basis-spring is onwettig vanaf Tafelberg
# En rugby: ‘n Winterstorm kan Suid-Afrka se spanne laat gly in die naweek se wegwedstryde
# Die energiereguleerder NERSA nooi die publiek uit om kommentaar te lewer oor ‘n voorgestelde tariefverhoging van 76-miljard-rand vir Eskom. Die nuwe ronde raadpleging volg nadat die reguleerder erken het hy het ‘n reuse-berekeningsfout gemaak met betrekking tot die waardasie van Eskom se hardeware en winsverdeling. NERSA wil nou hê verbruikers moet opdok vir die fout, wat ‘n styging van 10-persent in elektrisiteitskoste kan veroorsaak. Die voorstel word wyd gekritiseer, met energie-ontleders wat sê NERSA moet aangevat word daaroor. Die sperdatum vir kommentaar is 21 Januarie.
# Die ANC se tesourier-generaal, Gwen Ramokgopa, sê geld wat ingesamel is tydens die party se fondsinsamelingsveldtog voor die 8 Januarie-verklaring sal help om sy finansies bestendig te maak. Sy het op die ANC se Presidensiële Gholfdag in Sun City, Noordwes, gesê die party het ondanks finansiële druk al sy personeellede betaal. Sy sê daar was reuse-belangstelling in die geleentheid en beklemtoon voortgesette pogings om demokrasie deur fondsinsamelings te befonds:
# Saftu sê Andy Mothibi se aanstelling as die Direkteur van Openbare Vervolging gebeur op ‘n kritieke oomblik in die land. Mothibi is tans die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid. Die vakbond-federasie se woordvoerder, Asive Dyani, sê hulle neem kennis Mothibi aanvaar hierdie verantwoordelikheid sonder enige openbare rekord van persoonlike korrupsie of nadelige geregtelike bevindings teen hom. Sy voeg by die verwelkoming van sy aanstelling is beginselvas en nie persoonlik nie:
# SANParke het die publiek daaraan herinner dat basisspring onwettig en streng verbode is in die Tafelberg Nasionale Park. Dit volg na Maandag se dood van ‘n basisspringer by Platteklip-kloof. Veldwagters en nooddienste het onmiddellik reageer, maar die persoon is op die toneel dood. JP Louw van SANParke het sy meegevoel betuig aan die familie en vriende van die oorledene en besoekers aangespoor om die park se beskermde status te respekteer.
# Rugby: Die aankoms van Storm Goretti dra by tot die uitdaging wat Suid-Afrikaanse spanne die naweek in die Noordelike Halfrond kan verwag. Temperature onder vriespunt word reg oor Europa verwag. Die Stormers is op pad na Londen vir Sondag se Kampioenebeker-wedstryd teen Harlequins op Twickenham Stoop. Die Sharks speel in Manchester teen Sale Sharks en die Cheetahs ontmoet Ulster Sondag in ‘n Uitdaagbeker-wedstryd in Amsterdam. Dit is onseker of die wedstryd sal voortgaan weens die ysige toestande.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-68-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-460-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….