Nuus 15:00
BULLETIN 6 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die saak teen DJ Warras se vermeende moordenaar word uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek
# Krieket: Die verdedigende SA20-kampioen hoop om die gety weer in hul guns te laat draai
# En Brittanje verbied advertensies vir gemorskos om vetsug by kinders te bekamp
# Die Johannesburgse Landdroshof het die saak teen Warrick “DJ Warras” Stock se vermeende moordenaar, Victor Majola, tot volgende Dinsdag uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek. Stock is op Versoeningsdag voor die Zambezi-gebou in die stad vermoor. Die 44-jarige Majola staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade en sameswering om moord te pleeg. Stock se suster, Nicole, sê die gesin vra gebede en ondersteuning:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het die universiteitsgeleide toelae-verspreidingstelsel uitgebrei. Maandelikse oorbetalingsverslae moet ingedien word met besonderhede oor studentebetalings. Verblyftoelaes vir studente in privaat behuising sal regstreeks aan geakkrediteerde verskaffers betaal word. Die waarnemende raadsvoorsitter, Mugwena Maluleke, sê ‘n nuwe oorgangsraamwerk en opgegradeerde portaal sal deursigtigheid en belyning met die akademiese kalender verbeter, doeltreffende betalings verseker en finansiële bestuur vir verblyfverskaffers versterk:
# Die landbou-organisasie TLU SA het die jongste brandstofprys-aanpassings verwelkom en sê dit sal verligting bied aan die landbougemeenskap. Die prys van 93-oktaan petrol daal om middernag met 62-sent-per-liter, terwyl 95-oktaan-petrol 66-sent-per-liter goedkoper sal wees. Die prys van diesel daal met tussen een-rand-37 en een-rand-50 per liter, afhangend van die swaelinhoud. Bennie van Zyl van TLU SA sê dit is goeie nuus vir boere aan die begin van die jaar:
# Krieket: Die verdedigende SA20-kampioen, MI Cape Town, hoop om ‘n ommekeer te maak in vandag se tuiswedstryd teen Joburg Super Kings. MI Cape Town is tans sesde en laaste op die punteleer nadat hy vier van sy eerste vyf wedstryde verloor het, terwyl die ander een uitgereën het. JSK is tweede na Sunrisers Eastern Cape. Die veelsydige Protea-speler, Corbin Bosch, glo steeds sy span kan hul lot omdraai as sy kolwers en boulers weer hulle beste spelpeil kan herwin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-684-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-448-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: Die Britse regering het ‘n landwye verbod op advertensies vir gemorskos op televisie en aanlyn ingestel as deel van pogings om toenemende kindervetsug aan te pak. Die nuwe reëls bepaal voedsel en drank wat as hoog in vet, sout en suiker geklassifiseer word, mag nie voor 9 saans op televisie geadverteer word nie. Dit mag nooit deur betaalde aanlyn advertensies bevorder word nie. Die Departement van Gesondheid sê die regulasies sal na verwagting die aantal kinders wat met vetsug leef met 20-duisend verminder, en mettertyd sowat 44-miljard-rand in gesondheidsvoordele lewer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….