Nuus 15:00
BULLETIN 21 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Wêreldbank-lening sal Suid-Afrika se infrastruktuurhervormings steun
# ‘n Arbeidstekort bedreig KwaZulu-Natal se suikerriet-oes
# En sokker: Die mede-gasheer, Marokko, verhoog sy hotel-vermoë vir 2030 se Wêreldbekertoernooi
# Suid-Afrika het ‘n lening van 24,78-miljard-rand van die Wêreldbank bekom om hervormings in die land se water-, elektrisiteits- en vragvervoersektor te ondersteun. Dit sal gebruik word om waterinfrastruktuur te versterk, groter beleggings vanuit die privaat sektor aan te moedig en dienslewering aan miljoene huishoudings te verbeter. Dit sal ook ‘n mededingende elektrisiteitsmark ondersteun, en hervormings in die spoor- en hawesektor. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die program sal struikelblokke vir infrastruktuurontwikkeling verminder. Die hervormings sal na verwagting teen 2032 bykans 600-duisend werksgeleenthede help skep.
# Die African Farmers Association of South Africa in KwaZulu-Natal sê suikerrietprodusente aan die provinsie se noordkus het te kampe met ‘n ernstige tekort aan werkers. Die ondervoorsitter, Lloyd Hadebe, het aan die SABC gesê baie buitelandse werkers het boerderygemeenskappe verlaat ná betogings teen ongedokumenteerde migrante. Hy waarsku die tekort vertraag die oes en plaas druk op die bedryf aangesien boere sukkel om ervare werkers te vind:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Indonesiese hof het 19 mense skuldig bevind aan die handel in 34 babas deur ‘n onwettige aannemingsnetwerk wat tussen 2023 en verlede jaar tussen Indonesië en Singapoer bedryf is. Die sindikaat het babas, sommige van slegs drie-maande-oud, onwettig gekoop in die Indonesiese provinsie Wes-Java en tussen die twee lande verkoop. Die sindikaat se leier, die 70-jarige Lie Siu Luan, is tot sewe-jaar tronkstraf gevonnis. Dis minder as die tien-jaar waarvoor aanklaers gevra het. Die ander 18 beskuldigdes is tot tussen drie- en ses-jaar elk gevonnis.
# Sokker: Marokko beplan om sy hotel-vermoë vir die volgende Wêreldbekertoernooi met ‘n vyfde uit te brei ná sy goeie vertoning in vanjaar se toernooi in Noord-Amerika. Die Noord-Afrikaland het die kwarteindronde gehaal nadat hy in 2022 die halfeindronde van die toernooi in Katar bereik het. Marokko sal 2030 se Wêreldbekertoernooi aanbied saam met sy bure oorkant die Middellandse See, Spanje en Portugal, terwyl drie wedstryde ook in Suid-Amerika gespeel sal word. Die Ministerie van Toerisme sê hulle wil binne die volgende vier jaar 60-duisend beddens byvoeg.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-164-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-59-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 88-dollar-29-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit van die Wes-Kaap het bevind baie vroue bly vasgevang in gewelddadige verhoudings weens emosionele gehegtheid, finansiële afhanklikheid, vrees, sosiale verwagtinge en instellings wat hulle nie beskerm nie. Die studie is gegrond op die ervarings van 262 ma’s, oumas, tieners en praktisyns in vier gemeenskappe en ‘n universiteitstudentegroep. ‘n Navorser, professor Robert Balfour, sê geslagsgeweld kan nie hokgeslaan word deur slegs krisisingrypings wat op individuele gevalle fokus nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….