Nuus 15:00
BULLETIN 15 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaanse kankermedisyne is veilig te midde van skokkende bevindings in Afrika
# Rugby: Jasper Wiese word geskors vir vier wedstryde na sy rooikaart teen Italië
# En Burano in Italië is die wêreld se kleurvolste bestemming
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte sê alle plaaslik-beskikbare kankermedisyne voldoen aan die vereiste gehalte-, veiligheids- en doeltreffendheidstandaarde. Dit volg nadat Lancet se internasionale gesondheids-opname swak gehalte teen-kankermiddels in lande soos Ethiopië, Kenia, Malawi en Kameroen geïdentifiseer het. Die owerheid se woordvoerder, Yuven Gounden, bevestig die spesifieke handelsmerke in die studie word nie in Suid-Afrika geregistreer of verkoop nie:
# ‘n Veteraan-arbeidsadvokaat, Michael Bagraim, vra werkers om nie hul aftreegeld te gebruik voor hul aftree nie. Hy sê sedert die Parlement in September verlede jaar die tweepot-aftreestelsel bekragtig het, is 57-miljard-rand aan meer as 3,5-miljoen werkers uitbetaal. Bargraim sê die tweepot-stelsel beteken mense het toegang tot ‘n sekere bedrag geld uit hul pensioen- of voorsorgfondse sonder om te bedank:
# Namibië het amptelik gesprekke begin met die Internasionale Atoomenergie-agentskap rakende ‘n ondersoek om ‘n kernkragaanleg te bou, wat na verwagting ten minste tien jaar sal duur. Die uitvoerende direkteur in die Ministerie van Mynwese en Energie, Ben Nangombe, sê die projek moet aan 19 belangrike infrastruktuurstandaarde voldoen, insluitend regulatoriese aangeleenthede. Die regering oorweeg ‘n reeks keuses, insluitend klein modulêre reaktors en grootskaalse aanlegte. Nangombe sê die projek, teen 106-miljard-rand, vorm deel van ‘n breër nasionale energiestrategie:
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Jasper Wiese is vir vier wedstryde geskors na sy rooikaart tydens verlede naweek se toets teen Italië in Gqeberha. Hy sal dus Suid-Afrika se volgende wedstryd teen Georgië misloop, asook die eerste drie kragmetings van die Rugbykampioenskap – in Johannesburg en Kaapstad teen Australië, en teen die All Blacks in Auckland. Wiese sal eers weer op 13 September beskikbaar wees wanneer die Bokke in Wellington teen Nieu-Seeland speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-386-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-358-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-49-sent per vat.
# En laastens, Burano in Italië is aangewys as die wêreld se kleurvolste bestemming. Die kreatiewe ateljee, Berlew, het ‘n ontleding gedoen om te bepaal hoe kleurvol 125 van die wêreld se gewildste reisbestemmings is. Elke straat in Burano se geboue is van die mure en vensterrame tot die deure en hortjies in blou, rooi, groen en geel geverf. Chefchaouen in Marokko, wat in skakerings van blou getooi is, is tweede en Guatapé in Colombië is derde. Willemstad in Curaçao en Havana in Kuba voltooi die topvyf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….