Nuus 15:00
BULLETIN 29 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mededingingskommissie waarsku skole oor eksklusiewe ooreenkomste met verskaffers
# Versigtige optimisme oor Suid-Afrika se ekonomiese groei-vooruitsigte uitgespreek
# En, geen verdraagsaamheid vir oortreders met skerp verkeerstoename in KZN
# Die Mededingingskommissie doen ‘n beroep op skole om te voldoen aan mededingende prosesse wanneer hulle skryfbehoefte- en uniformverskafferooreenkomste aangaan. Die waarskuwing kom terwyl ouers begin met die aankoop van uniforms en skryfbehoeftes voor die begin van die skole. Die hoofontleder, Karabo Motaung sê in ‘n onderhoud met SABC News, sulke ooreenkomste is nie onwettig nie, maar word problematies aangesien baie kontrakte sonder mededingende prosesse gesluit is. Sy beveel aan dat ooreenkomste tot vyf jaar beperk word om nuwe verskaffers tot die mark toe te laat:
En, in kommentaar oor dieselfde saak, het die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame eksklusiewe skryfbehoeftes en uniformverskafferooreenkomste in skole gekritiseer en gesê dit jaag pryse op en plaas onregverdige druk op ouers. Die hoofsekretaris, Matakanye Matakanye, doen ‘n beroep op skole om langtermyn immergroenkontrakte te skrap en ouers toe te laat om van bekostigbare verskaffers van hul keuse gebruik te maak. Hy beklemtoon die hoë koste verbonde aan enkelverskaffers kan lei tot viktimisering van kinders wie se ouers nie die duur items kan bekostig nie:
# Die ekonoom van die Noordwes-Universiteit, Professor Raymond Parsons, voorspel versigtige optimisme vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2026. Hy verwys na die beskeie BBP-groei van ongeveer 1,6-persent, en beklemtoon ondersteunende faktore soos begrotingsmaatreëls, kredietopgraderings en rentekoersverlagings. Parsons beklemtoon dat effektiewe strukturele hervormings noodsaaklik is om beleggings te bevorder, werk te skep en vertroue te handhaaf. Hy waarsku dat risiko’s soos misdaad en globale onsekerhede ekonomiese herstel kan belemmer indien dit nie aangespreek word nie:
# Die Departement van Vervoer en Menslike Nedersettings het swaar verkeer KwaZulu-Natal aangemeld met mense wat tydens die feestyd terugkeer. Die departementele woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya sê meer as 600 voertuie het tussen 6uur en 7uur vanoggend deur die Mariannhill-tolplaza beweeg. Die Padverkeersinspektoraat handhaaf hoë sigbaarheid g tydens die #NenzaniLaEzweni-operasie. Sibiya sê verskeie arrestasies vir dronkbestuur, ondersteun deur die SAPD en plaaslike verkeersowerhede, is in Newcastle gemaak:
# Sokker: Zimbabwe se Warriors mik om vir die eerste keer ooit deur te dring na die Afrikabekertoernooi se laaste 16 wanneer hulle vandag teen Bafana Bafana in ‘n Groep B-wedstryd in Marrakesh te staan kom. Dit is hul eerste ontmoeting in die AFCON-groep-eindstryd, met albei spanne wat steeds ‘n kans staan. ‘n Gelykuitslag is genoeg vir Bafana, wat onoorwonne is in vier wedstryde teen die Zimbabwese span. Die kaptein van die Warriors, Marvelous Nakamba spoor sy span aan om gefokus te bly:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-587-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-459-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….