Nuus 15:00
BULLETIN 19 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke ondersoek steeds die dood van drie Simonstadse Vloot-offisiere
# Putin glo nie Oekraïne is gereed vir vredesamesprekings nie
# En sokker: Die Bafana Bafana-vleuel Oswin Appollis is fiks verklaar vir die AFCON-openingswedstryd teen Angola
# Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, sê die Valke ondersoek steeds die dood van drie offisiere van die Vlootbasis Simonstad in Kaapstad in 2023. Hulle is van die dek van die duikboot Manthatisi afgespoel tydens die voorval waarin ‘n senior offisier ernstig beseer is. Cachalia sê ‘n vertroulike verslag dui op moontlike nalatigheid deur die Suid-Afrikaanse Vloot en die kaptein aan diens, maar geen verdagtes is geïdentifiseer nie.
# ‘n Dertien-maande-oue baba is dood nadat die Gwadana-kliniek in die Oos-Kaap vroegmiddag gesluit het, ondanks provinsiale beleid wat vereis dat klinieke tot vier-uur moet oop bly. Jane Cowley van die DA sê die kind se ouma het om drie-uur hulp gesoek, maar is weggewys. Sy sê die DA het die Oos-Kaapse Gesondheidshoof, Rolene Wagner, skriftelik versoek om dissiplinêre stappe teen die kliniek se bestuurder te doen:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, kritiseer die waterinstandhouding in Johannesburg oor die feestyd en noem dit onvoldoende en swak beplan. Sy sê munisipaliteite het vooraf geweet van instandhoudingswerk, maar versuim om voor te berei. Majodina waarsku watertenkwaens is daar vir noodgevalle, nie langtermynvoorsiening nie. Sy het aan SABC News gesê Johannesburg het intern 20 tenkwaens verkry en ‘n gebrek aan toesig het inwoners ontneem van basiese waterbehoeftes:
Nuus uit die buiteland:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, glo nie Oekraïne is gereed vir vredesgesprekke nie. Hy het tydens sy jaarlikse nuuskonferensie aan die einde van die jaar gesê sy land is gereed en gewillig om die konflik in Oekraïne vreedsaam te beëindig, gegrond op beginsels wat hy verlede jaar uiteengesit het. Putin sê hy het nog nie regtig gesien dat Oekraïne gereed is vir vredesgesprekke nie, hoewel daar sekere tekens was, insluitend vanaf Kiëf se regering, dat hulle wel gereed is om in ‘n soort dialoog betrokke te raak.
# Sokker: Die vleuel Oswin Appollis is beskikbaar vir Bafana Bafana se Afrikabekertoernooi-openingswedstryd teen Angola in Marrakesj, Marokko. Hy is Dinsdag hinkepink van die veld af ná Suid-Afrika se oorwinning van 1-0 oor Ghana in ‘n vriendskaplike kragmeting op die Dobsonville-stadion in Soweto. Die 24-jarige het homself as ‘n gereelde speler onder afrigter Hugo Broos gevestig terwyl hy nog by Polokwane City was, voor hy na Orlando Pirates geskuif het. Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging se mediese hoof, Thulani Ngwenya, sê al die spelers is fiks en gesond.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-281-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-326-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….