Nuus 15:00
BULLETIN 17 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Redcliffe-tempelinstorting word verbind aan strukturele tekortkomings
# Krieket: Die Protea-mans verkeer onder druk in die voorlaaste T20 teen Indië
# En Japan se laaste twee reuse-pandas verhuis na China
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê die Redcliffe-tempel in eThekwini, KwaZulu-Natal, het ingestort toe beton op sy boonste vlakke gegiet is. Voorlopige bewyse dui op ‘n skielike strukturele tekortkoming, waarskynlik veroorsaak deur gietwerkprobleme. Macpherson bevestig ook owerhede gee dringend aandag daaraan om die betrokke verskaffer en bouer te identifiseer om elders soortgelyke voorvalle te voorkom:
# COPE verwerp die regering se onafhanklike transmissie-projekteprogram ter waarde van 440-miljard-rand wat buitelandse maatskappye, insluitend Adani enSouthern Power, uitnooi om hoëspanning-transmissielyne te bou. Woordvoerder Pakes Dikgetsi sê dit ondermyn nasionale beheer, verhoog die risiko van privatisering en bedreig ekonomiese soewereiniteit. Hy vra ‘n staatsgeleide benadering wat Eskom en ander staatsondernemings bemagtig om energie te beveilig, werk te skep en Suid-Afrikaners te bevoordeel:
Nuus uit die buiteland:
# Rwandees-gesteunde M23-rebelle het beloof om aan Uvira in die Demokratiese Republiek die Kongo te onttrek op versoek van Amerika, wat verlede week se besetting gekritiseer het as ‘n bedreiging vir bemiddelingspogings. Die rebelle het die dorp op die grens met Burundi binnegeval minder as ‘n week nadat die presidente van die Kongo en Rwanda in Washington teenoor hul Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, hul verbintenis bevestig het tot ‘n vredesooreenkoms. Rwanda ontken dat hy M23 ondersteun en beskuldig Kongolese en Burundese magte van die hernude gevegte.
# Krieket: Die Protea-mansspan is onder druk in vandag se vierde T20 teen Indië in Lucknow. Hulle is 2-1 agter in die reeks van vyf wedstryde en moet wen om ‘n reeksnederlaag te vermy. Die gashere het die eerste en die derde wedstryd in onderskeidelik Cuttack en Dharamsala gewen, terwyl die Proteas in die tweede een in Nieu-Chandigarh geseëvier het. Indië het die eendagreeks 2-1 beklink het. Die laaste T20 word Vrydag in Ahmedabad gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-779-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-316-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte: Duisende mense het na die Ueno-dieretuin in Tokio gestroom, ‘n dag na die nuus dat Japan se laaste twee reuse-pandas binnekort na China gaan terugkeer, met baie wat tranerig afskeid geneem het. Die aankondiging dat die vierjarige Xiao Xiao en Lei Lei einde Januarie vertrek, was Maandag nasionale nuus, en het tot groot teleurgestelling gelei vir Japanners wat lank reeds ‘n liefde vir pandas het. Die tweeling is in Junie 2021 in die dieretuin gebore en is ‘n trekpleister sedert hul ouers verlede jaar na China teruggekeer het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….