Nuus 15:00
BULLETIN 20 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Keir Starmer lewer sy laaste toespraak as die Britse eerste minister voor Andy Burnham oorneem
# Die Vryemarkstigting sluit aan by ‘n hofgeding teen die Onteieningswet
# En rugby: Die Bokke verwelkom verskeie sleutelspelers terug vir die kragmeting met Argentinië
# Keir Starmer het sy laaste toespraak as Britse eerste minister en leier van die Arbeidersparty voor Downingstraat 10 in Londen gelewer voor hy oorgee aan die inkomende Andy Burnham. Starmer het verwys na sy rekord as eerste minister en sy opvolger sterkte toegewens. Hy sê Burnham het sy volle steun. Starmer sê politiek sal altyd ‘n spanpoging wees, en het Brittanje bedank vir die geleentheid om te dien:
Terug in Suid-Afrika:
# Getuie K se regspan vra die Johannesburgse Landdroshof om nie haar identiteit bekend te maak nie nadat sy agter geslote deure voor die Madlanga-kommissie getuig het. Die staat sê egter haar identiteit moet bevestig word en daar kan nie vasgestel word of sy dieselfde getuie is nie. Die inspekteur van die Johannesburgse Metropolisie se BBP-beskermingseenheid en die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, het in die hof verskyn op aanklag van diefstal van edelstene ter waarde van 14,9-miljoen-rand. Die Onafhanklike Polisieondersoek-direktoraat het die saak ondersoek.
# Die president van die Alliansie vir Regsamptenare, Neelan Karikan, sê geregtelike ongeskiktheidsprosesse teen die Vrystaatse regter Lepona Lekale moes ondersoekend eerder as teenstrydig wees. Lekale is sedert 2018 van die regbank afwesig weens swak gesondheid. Karikan het aan die SABC gesê die tribunaal moet oorweeg of redelike werkplek-aanpassings, insluitend tegnologie, die regter in staat kan stel om voort te gaan voordat geregtelike ongeskiktheid verklaar word:
# Die Vryemarkstigting het aangesluit by die regsgeding teen die Onteieningswet nadat hy as vriend van die hof toegelaat is in ‘n Hooggeregshof-aansoek wat AfriForum en die Instituut vir Rasseverhoudinge aanhangig gemaak het. Martin van Staden van die stigting voer aan die bepaling wat toelaat dat eiendom sonder vergoeding onteien mag word, is ongrondwetlik en ondermyn eiendomsregte. Hy sê wetgewing kan nie grondwetlike beskerming tersyde stel nie en gaan die hof vra om die betwiste bepaling ongeldig te verklaar.
# Rugby: Die Springbokke verwelkom verskeie gereelde spelers terug, insluitend kaptein Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Lood de Jager en Sacha Feinberg-Mngomezulu, vir volgende maand se eenmalige toets teen Argentinië in Buenos Aires. Die Bokke het bonuspunt-oorwinnings oor Engeland, Skotland en Wallis behaal aan die begin van die Nasieskampioenskap. Afrigter Rassie Erasmus sê die groep sal verdeel word, met spelers wat agterbly om voor te berei vir die All Blacks se besoek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-839-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-31-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….