Nuus 15:00
BULLETIN 11 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Spanning loop hoog by die Nkabinde-ondersoek nadat Batohi van leuns beskuldig word
# Sokker: Salah se Egiptiese spanmaats staan by hom ná ‘n uitval met Liverpool se afrigter
# En ‘n kenner bepleit die strategiese gebruik van jaarlikse bonusse
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, Shamila Batohi, ontken dat sy gelieg het oor die rol van die raadgewer, David Broughton, in die Cato Manor-afpersingsaak, en aanklagte rakende die voormalige Misdaadintelligensie-hoof, Richard Mdluli. Sy is kruisondervra voor die Nkabinde-ondersoek na die hoof van die Gautengse Nasionale Vervolgingsgesag, Andrew Chauke, se geskiktheid vir die posisie. Batohi ontken advokaat Tembeka Ngcukaitobi se bewering dat sy Broughton se insette verkeerd oorgedra het:
# Forum for South Africa eis ‘n volledige leefstyloudit van regter Portia Phahlane en alle regters wat verdink word van onbehoorlike optrede of onverklaarbaar ryk is. Die regter van die Hooggeregshof in Pretoria is op spesiale verlof geplaas ná aanklagte van korrupsie en geldwassery. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, eis ook ‘n omvattende hersiening van al haar sake, veral dié waar beweerde oortreders vrygespreek is:
Die ministerie van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling vra intussen geskrewe voorleggings oor die konsepregulasies vir tradisionele howe en konsep-gedragskode wat ingevolge Artikels 16 en 17 van die Wet op Tradisionele Howe gepubliseer is. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê die konsepregulasies is ontwikkel na beraadslaging met nasionale en provinsiale owerhede vir tradisionele sake en die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers:
# Sokker: Mohamed Salah se Egiptiese spanmaats staan by hom na sy uitval met sy afrigter by Liverpool, Arne Slot. Die Nederlander het Salah uit die span gelaat vir Dinsdag se UEFA Kampioeneliga-wedstryd teen Inter Milan nadat hy Slot in die openbaar gekritiseer het toe hy drie wedstryde op die bank begin het. Die Egiptiese doelskieter Kouka Hassan beskryf Salah as ‘n legende vir die klub en die land. Salah sluit by sy nasionale spanmaats aan vir die Afrikabekertoernooi wat die 21ste in Marokko begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-369-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-217-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-19-sent per vat.
# En ten slotte: Die direkteur van Crue Invest, Eric Jordaan, sê jaarlikse bonusse moet tot voordeel van finansiële vooruitgang beskou word en nie as gratis geld nie. Hy het aan Moneyweb gesê bonusse behoort gebruik te word om skuld te delg, vir bykomende nood-spaargeld en om aftreefondse aan te vul en belastingvoordele te vermeerder. Jordaan beklemtoon belastingvrye beleggings, kinders se opvoeding en huisleningterugbetalings is slim keuses. Hy sê belegging in persoonlike ontwikkeling en die behoud van ‘n klein gedeelte vir genot verseker langtermyn sekerheid sowel as ‘n beloning vir harde werk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….