Nuus 15:00
BULLETIN 10 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet bevestig Suid-Afrika se verbintenis tot die G20-beginsels ondanks Amerikaanse uitsluiting
# Sakeliga en die Werkgewersvereniging ontbloot ‘n onregmatige bevel om die herroepe Wet op Bevolkingsregistrasie te gebruik
# En tennis: 17-miljoen-rand se prysgeld is op die spel in ‘n vertoontoernooi in Vegas
# Die kabinet beklemtoon Suid-Afrika bly steeds verbind tot G20-beginsels en multilaterale samewerking, ondanks Amerika se standpunt om die land volgende jaar uit te sluit van G20-vergaderings. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê ongeag hierdie betreurenswaardige besluit, beklemtoon Suid-Afrika, as ‘n stigterslid van die G20, die belangrikheid van samewerking en multilateralisme:
# Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika en Sakeliga sê die Departement van Indiensneming en Arbeid het werkgewers gelas om die herroepe Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950 te gebruik om werkers volgens ras te klassifiseer. Hulle voer aan die opdrag verskuif die wettige risiko rakende rasseklassifikasie van die regering na ondernemings. Sakeliga se uitvoerende hoof, Piet le Roux, sê die vereistes is ongrondwetlik en onwerkbaar, en waarsku werkgewers kan swaar boetes te wagte wees vir nie-nakoming.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê Suid-Afrika het ‘n mylpaal bereik met sy voorbereiding vir die komende plaaslike regeringsverkiesing. Dit volg ná die amptelike oorhandiging van wyksafbakening aan die Verkiesingskommissie in Pretoria. Hlabisa sê die OVK kan nou begin met kiesers-registrasie en -opvoeding. Hy sê die stap sal munisipaliteite voorberei vir hervormings wat ten doel het om dienslewering te verbeter:
# MultiChoice is vandag amptelik gedenoteer van die Johannesburgse Aandelebeurs en A2X ná ‘n verpligte verkryging deur die Franse mediareus, Canal-plus, wat alle oorblywende aandele na afloop van ‘n twee-jaar-lange oornamebod bekom het. Canal-plus het Vrydag die betaling afgehandel in ooreenstemming met die Wet op Maatskappye. Die beurs, A2X en die Reserwebank het regulatoriese goedkeuring toegestaan. Canal-plus beplan binne nege maande ‘n sekondêre inwaartse notering op die beurs ondanks die denotering.
# Tennis: Prysgeld van 17-miljoen-rand is op die spel in volgende jaar se MGM Slam in Las Vegas, Amerika. Die toernooi, wat in Maart gespeel word, sal agt van die wêreld se elite manspelers insluit. Die deelname van die plaaslike spelers Taylor Fritz en Tommy Paul, die Noorweër Casper Ruud, die jong Brasiliaan Joao Fonseca, die Franse veteraan Gael Monfils, die Italianer Lorenzo Musetti, Alexander Bublik van Kazakstan en die Australiër Nick Kyrgios is reeds bevestig. Die toernooi gaan voort ondanks kritiek oor die meedoënlose tennisprogram.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-347-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-194-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….