Nuus 15:00
BULLETIN 9 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Parlementslede gaan volgende jaar opleiding in diplomasie ontvang
# Wêreldleiers beloof 32-miljard-rand om polio uit te roei te midde van befondsingsbesnoeiings
# En sokker: Daar is twyfel oor Neymar se fiksheid vir die Wêreldbekertoernooi
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê parlementslede sal van volgende jaar formele opleiding in diplomasie ondergaan. Sy het in ‘n onderhoud op Mbuyiseni Ndlozi se potgooi, African Renaissance, gesê die Parlement versterk voortgesette programme om reëls, multilaterale betrokkenheid en LP’s se rolle in streeks- en internasionale forums te verstaan. Sy beklemtoon LP’s verteenwoordig Suid-Afrika in instellings soos die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Afrika-Unie, en moet dus toegerus wees daarvoor:
# Die ANC bespreek ‘n radikale voorstel om die koop van stemme te beperk op die tweede dag van sy Nasionale Algemene Raadsvergadering in Boksburg, Gauteng. Die plan, gesteun deur die party se Veteraneliga, is vir die instelling van ‘n stelsel van een-lid, een-stem, wat die huidige afgevaardigde-gebaseerde verkiesing sal skrap wat na bewering manipulering en stemkopery vergemaklik. Hervormers voer aan dit sal demokrasie binne die party herstel en vertroue in leiersverkiesings versterk. Dit is deel van groter pogings om die party se integriteit en openbare aansien te vernuwe.
# Die Wes-Kaapse regering het 17-miljoen-rand bewillig vir brandbestryding vanuit die lug om hierdie somer vinniger op veldbrande te reageer . Die befondsing is deel van die provinsie se 2025/26-somergereedheidsplan, wat gemeenskappe, eiendomme en kritieke natuurlike infrastruktuur sal beskerm. Verlede jaar is meer as elf-duisend brande aangeteken, met meer as 75-duisend hektaar wat geraak is. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê voorspellings waarsku oor ‘n warm, droë en winderige seisoen:
Nuus uit die buiteland:
# Wêreldleiers het 32-miljard-rand vir die uitwissing van polio beloof en pogings versnel om 370-miljoen kinders elke jaar teen polio te beskerm te midde van beduidende befondsingsbesnoeiings. Die begroting van die Global Polio Eradication Initiative sal na verwagting volgende jaar met 30-persent daal. Dit is grootliks te wyte aan ‘n wêreldwye afname in buitelandse hulp, met Amerika wat aan die Wêreldgesondheidsorganisasie onttrek het terwyl Duitsland en Brittanje ook besnoeiings maak. Vennote beplan om meer te fokus op toesig en inenting in gebiede waar polio-oordag ‘n hoë risiko is.
# Sokker: Die Brasiliaanse ster-speler Neymar se kans op deelname aan volgende jaar se Wêreldbekertoernooi het versleg omdat hy ‘n knie-operasie moet ondergaan. Hy is die naweek beseer tydens ‘n wedstryd vir sy klub uit sy kinderdae, Santos. Neymar is terug by die huis na ‘n tyd in Saudi-Arabië. Hy het in die laaste vier wedstryde vyf doele aangeteken en Santos Saterdag gehelp om Cruzeiro te klop en relegasie af te weer. ‘n Hele rits beserings het hom die afgelope twee jaar uit Brasilië se span gehou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-231-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-205-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….